GEORGE NEWS - Annatjie en Gerhard Groenewald se jong, inheemse tuin waaroor George Herald ongeveer twee jaar gelede berig het, het 'n ware lushof geword wat koelte, rustigheid en kleur dwarsdeur die jaar bied.
Nadat hul nuwe huis in Kraaibosch destyds klaar gebou is, het hulle met 600m² oop grond gesit.
Annatjie het die bul by die horings gepak en met die hulp van twee tuinboukundiges is dit in 'n grootse poging binne slegs ses weke in 'n volledige tuin omskep.
Hulle het 11 bakkievragte plante van hulle vorige huis in Wildernis aangery. Hieronder was 150 clivias, 'n klompie spekbome, 'n 20 jaar oue broodboom en groot boomaalwyne.
'n Verskeidenheid inheemse bome is aangeskaf en verskillende spesies laventel en grasse is aangeplant. Talle vragte kompos is ook ingery en terrasse is geskep om die val van die erf te akkommodeer.
Paadjies is met sementblokke uitgelê wat jou na verskillende interessante hoekies van die tuin kon lei.
Die tuin floreer nou en die Groenewalds is baie in hul skik met die resultaat. Daar is geen grasperk nie en die tuin vereis minimale onderhoud.
"Hier is altyd iets wat blom en ons kan bye, skoenlappers en 'n lieflike verskeidenheid van voëls geniet, presies soos ons dit wou gehad het. Gerhard is natuurlik in sy noppies, want hy hoef nie gras te sny nie. Die tuin gee vir ons soveel plesier," sê Annatjie.
"Ek het gekry presies wat ek beoog het - 'n Engelse landelike tuin met 'n eg Suid-Afrikaanse inslag."
FOTOGALERY: Landelike tuin met inheemse plante verskaf plesier
Vanuit 'n weggesteekte hoekie in die tuin waar 'n mens rustig kan sit sien jy die huis in die agtergrond.
Annatjie en Gerhard se stoep kyk uit op 'n inheemse lushof.
Die paadjie lei na 'n hoekie met 'n klomp boomaalwyne.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’