GEORGE NUUS - Die jaar se ratte is stadig aan die draai met die laaste vakansienaweek agter die rug. Sand op die voete is vir eers vergete. In die kunsgemeenskap is die teaters nog nie volstoom aan die gang nie, maar vir die diegene wat smag na die kulturele is daar wel visuele kunste wat sal inspireer.
In George bied Cape Palette in Heatherpark tans 'n groepuitstalling aan met plaaslike en nasionale beeldende kunstenaars oor verskeie kunsmedia, insluitend skilderye, beeldhouwerke en gemengde media.
Carl Roberts se bronsbeeld Blue Bird of Happiness het dadelik by my aanklank gevind, want dit verbeeld presies hoe 'n mens voel wanneer jy terugkeer werk toe na 'n Desembervakansie!
Soortgelyk het die olieverfskildery The Student van Marnitz Steyn 'n mens herinner wat alles nog voorlê vir die nuwe jaar.
Carl Roberts se bronsbeeld Blue Bird of Happiness, Cape Palette Art Gallery.
'n Uitstalling deur die Suid-Kaapse Vereniging vir Beeldende Kuns (Scava) by die George-museum in Yorkstraat duur tot die einde van Januarie.
'n Grafiese ontwerper van Group Editors, Annalene Lindeque, het die Bill Benett-trofee gewen as Sketcher of the Year vir haar tekening, Lemon. Sy verduidelik dat die skets deel vorm van 'n trilogie wat fokus op die weerloosheid van kinders, maar ook hul kinderlike skoonheid en onskuld, in 'n wêreld vol predatore.
The student deur Marnitz Steyn, Cape Palette Art Gallery.
- Wilderness se twee galerye is die moeite werd om te besoek: Cabesa Gallery huisves en versprei kunswerke vir die Wilderness Kunsvereniging, terwyl Peter Pharoah Fine Art Gallery fokus op Afrika-temas met gewaagde, moderne tegnieke.
- Van 28 Maart tot 4 April word Oudtshoorn 'n kunsmeka met 'n wye verskeidenheid visuele kunste tydens die 30ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). Die hoofuitstalling is in die Prince Vintcent-gebou met nuwe werke deur elkeen van die KKNK se vorige feeskunstenaars, asook werke deur twee voormalige feeskurators vanaf 1996 tot nou.
Luxolo Witvoet se Kunste-naarsverblyf. Witvoet, 'n opkomende Kaapse kunstenaar, se werk vorm deel van die visuele kunsuitstallings vir KKNK 2026 in die Prince Vintcent-gebou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’