GEORGE NUUS - 'n Unieke opvoedkundige kookboek, wat ouer kinders op 'n wêreldwye reis deur geskiedenis, kos en smake neem, is onlangs vrygestel.
Saamgestel deur Chara Scholtz (25), 'n ervare reisiger en onderwyseres van George, bied Kosavonture 'n versameling van resepte en stories van regoor die wêreld.
Hierdie boek deel geskiedenis, tradisies en legendes van ses antieke beskawings, ses kontinente en 31 lande, en bevat 60 heerlike resepte wat wissel in moeilikheidsgraad van super maklik tot dié wat volwasse toesig benodig.
Elke resep sluit 'n oorsig van die oorsprong en ander prettige feite in en gaan gepaard met volkleurfoto's, geskatte gaarmaaktye en die moelikheidsvlak. Alhoewel dit gemik is op kinders tussen nege en 14 jaar oud, sal sommige resepte vir jonger kinders ook doenbaar wees. Volwassenes sal ook tot die diversiteit en geure aangetrokke wees.
Hierdie boek deel geskiedenis, tradisies en legendes van ses antieke beskawings, ses kontinente en 31 lande.
Volgens Chara bring die boek haar liefde vir kos, reis en stories vertel bymekaar. "My gesin het regoor die wêreld gereis vir werk, en waar ons ook al was, het ons die plaaslike kos en gebruike ontdek. Vir ons is kos meer as net om honger te stil - dit gaan oor familie, vriende, deel en nuwe ervarings, en ek wil hê ander moet dit ook so geniet.
"Daar was soveel meer kosstories om te vertel, dit was moeilik om te besluit watter ingesluit moes word. Daar mag selfs 'n geleentheid wees vir nog 'n kookboek."
Haar reisende opvoeding het Chara ook gelei na 'n meestersgraad in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch, waar sy tot verlede jaar gewerk het. Sy gee nou geskiedenis en lewensoriëntering by York High in George.
Chara is die dogter van die bekende Christelike inspirerende skrywer en spreker, Suria Scholtz.
Kosavonture bestaan uit 208 bladsye in A4-formaat, alle bladsye in kleur. Dit is ook beskikbaar in Engels onder die titel Food Adventures.
Chara is die dogter van die bekende Christelike inspirerende skrywer en spreker, Suria Scholtz.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’