LEEFSTYL - Wil jy graag jou eie Afrikaanse liedjies skryf of sing? Gryp hierdie naweek die geleentheid aan om inspirasie en leiding van kreatiewe kenners te kry.
Petronel Baard sal op Saterdag 15 November om 09:00 tot 14:00 by The Townhouse in Mosselbaai 'n gratis ATKV-Crescendo Liedjieskryfwerksessie aanbied. Dié sessie bied waardevolle wenke en leiding vir enigiemand wat belangstel om oorspronklike Afrikaanse musiek te skryf en op te tree.
Die bekende kunstenaars Hakkiesdraad Hartman en Whaden Johannes is sprekers by die geleentheid. Deelnemers sal die geleentheid kry om van hul ervarings te leer, vrae te vra en praktiese raad te ontvang oor liedjieskryf en optrede.
Die werksessie vorm deel van die ATKV-Crescendo Mentorskapprogram 2026, wat daarop gemik is om nuwe Afrikaanse stemme te ontwikkel en ondersteun.
Deelnemers wat tydens die werksessie uitblink, staan die kans om deur te dring na die Top-25, wat volgende jaar aan 'n intensiewe mentorskapprogram deelneem.
Belangstellendes kan vooraf registreer by www.crescendo.org.za en inligting oor die kompetisie bekom. Rig navrae aan Petronel Baard by 082 737 8416. - Saamgestel deur Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’