GEORGE NUUS - Sumayyah Petersen, wat in die algemene omgang as die 'Godmother van Afrikaans' bekendstaan, het vier provinsiale erkennings by die Wes-Kaapse Kulturele Toekennings ontvang.
Die jaarlikse toekenningsgeleentheid van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport is op 9 September by die Kunstekaap-teatersentrum in Kaapstad gehou.
Petersen het die toekennings vir die beste jong skrywer van die jaar asook vir belangrike bydrae tot taalontwikkeling ontvang. Sy is ook met sertifikate erken vir haar nominasies in die kategorieë jong kunstenaar en Neville Alexander-eerbewyse.
Petersen, wat oorspronklik van George kom, het oor die jare 'n sterk stem in die bevordering van Afrikaans, letterkunde, kultuur en erfenis geword. Van haar werk word ook by die Afrikaanse Taalmonument vertoon.
Die Afrikaanse Taalmonument se direkteur, Michael Jonas, was by die geleentheid om haar te ondersteun.
Dr. Marlene le Roux, uitvoerende hoof van die Kunstekaap, het Petersen ook tydens die geleentheid vereer en haar aangemoedig om met haar werk voort te gaan. Petersen is verder deur haar tannie, Lydia Jephta, en haar mentor, Vainola Makan, ondersteun.
Vir Petersen is die erkenning nie net 'n persoonlike prestasie nie, maar ook 'n prestasie vir die gemeenskappe, stories en stemme wat deel van Afrikaans se uiteenlopende erfenis vorm.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’