LEEFSTYL NUUS - Toe ek gevra word om ’n storie oor melktert te skryf het ek gedink ag wat, dis mos maklik - eg Suid-Afrikaans. Maar melktert is toe nié so eie aan Suid-Afrika soos ons dink nie, maar ons kan seker die kollig deel of hoe?
Ons is almal mal oor ’n lekker snytjie melktert saam met ’n koppie tee of koffie. Party verkies dit warm, ander weer koud - met 'n kors of sonder 'n kors. Dit bly selde by net een skyfie. Die geur van melktert en kaneel laat enige mens se smaakkliere water.
Al is jou oumagrootjie se melktertresep al verbleik, moeilik leesbaar, gevlek, oor en oor gedeel, kan jy maar weet dié resep gaan nog vele male gemaak word. Eg Suid-Afrikaans of nie, ek hoop jou huis ruik môre na melktert, want 27 Februarie is Nasionale Melktertdag.
En glo dit as jy wil daar is selfs ’n Nasionale Melktertdag-blad op Facebook en Instagram.
Melktert se oorsprong
Melktert kom eintlik van die Romeine wat reeds 2 000 jaar gelede versot was op eiervla, soet en sout. Die streng vasdagreëls wat die katolieke kerk mettertyd ingestel het, het veroorsaak dat monnike en nonne – askete, maar tog ook kosliefhebbers, met mekaar gewedywer het in hul soektog na smaakvolle plaasvervangers vir vleis, vis, melk en eiers.
So is amandelpap (gemaak van amandelmelk en gegeur met gemmer en kaneel), agter die geheimsinnige kloostermure tot perfeksie ontwikkel.
Suid-Afrikaanse melktert
Die Suid-Afrikaanse melktert se storie begin in 1652 toe die Hollanders hulle aan die Kaap kom vestig het. Hulle het die nodige produkte tot hul beskikking gehad om ryk melkgeregte, soos melksnysels en melkkluitjies te maak.
Jan van Riebeeck het binne die eerste paar maande aan die Kaap ’n melkboerdery begin. Die gebruik van speserye, soos neutmuskaat en kaneel as geurmiddel was toe reeds algemeen in Hollandse kookkuns.
Daar was aanvanklik nie genoeg pluimvee om in die groot behoefte van eiers te voorsien nie, maar dié tekort is met pikkewyneiers aangevul. ’n Dag na Kersfees in 1652 het Van Riebeeck aangekondig dat daar vir die eerste keer suksesvol vars botter aan die Kaap gemaak is.
Die meel wat gebruik is, het aanvanklik uit Holland gekom tot daar genoeg koring verbou is om die Kaap selfvoorsienend te maak. Terte is in Holland gebak lank voor Van Riebeeck se koms na die Kaap.
Plaasbotter - Foto: Unsplash
Eerste resep
Thomas van Noot, ’n Hollandse kosskrywer, het reeds in 1514 ’n resep vir Mattentaart in sy boek, Een notabel boexcken van cokeryen, (A Notable Book of Cookery) opgeneem.
Dit is na alle waarskynlikheid hierdie Hollandse resep wat in die volgende eeu aangepas en verander is tot die tradisionele skilferkorsmelktert waarvoor ons vandag so lief is.
Vandag bestaan melktert uit ’n eiervlapap wat op ’n deegbasis in die oond gebak word en daar is die wat glo dat egte tradisionele melktert ’n skilferkors moet hê, soos ek!
Maar daar is ook die wat hul mond aan niks anders as melktert met ’n broskorsdeeg sal sit nie. Daar is selfs ’n kortpadresep vir korslose melktert wat deur haastige kokke voorgesit word. Klink my ons boeremelktert het baie niggies en nefies.
Kaneelstokkies - Foto: Unsplash
Oorsprong van Nasionale Melktertdag
Weg!-tydskrif verdien ‘n monument vir hul inisiatief om Nasionale Melktertdag te inisieer en dit het alles begin omdat daar een middag op 27 Februarie 2013 vreeslik baie melktert in hulle kantoor geëet is.
Op dieselfde dag in 2014 het Weg! se redaksie vir die grap ’n Facebook-blad en Twitter-rekening oopgemaak en die likes en shares het ingestroom en net daar is Nasionale Melktertdag gebore.
Foto: www.hulettssugar.co.za
Wenke
• Gebruik vars volroommelk.
• Die kaneel moet die geur van die melk beklemtoon.
• Gebruik plaasbotter nie margarine nie.
• Vanieljesaadjies is stukke beter as vanieljegeursel uit ’n botteltjie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’