Update
GEORGE NUUS - Munisipale woordvoerder Chantel Edwards-Klose het pas bevestig dat vandag se staking deur munisipale werkers 'n "onbeskermde staking" is.
"Die munisipaliteit hanteer die kwessie," het sy gesê.
Lede van die munisipale vakbonde Imatu en Samwu wag steeds vir terugvoer van hul unieverteenwoordigers.
Een van die EPWP-werkers het gesê alhoewel hulle nie werklik deel is van die munisipale vakbonde nie, omdat die meeste van die werkers slegs op kontrakbasis aangestel is (dus nie permanente werkers nie), probeer die unies help.
George Herald het op die toneel gepoog om met die vakbondleiers te praat, maar hulle het aangedui dat hulle nie met die media mag kommunikeer nie. Hulle het wel mediablootstelling verlang.
Die grootste kwessie, soos verwoord deur die kontrakwerkers, is dat daar blykbaar Covid-19 verligtingsfondse aan die munisipaliteit oorbetaal is, maar dat die fondse nie die werkers bereik nie.
Hulle voel hul veiligheid is in gedrang en dat hulle onbeskerm is wanneer hulle hul take uitvoer, soos dreine en riolering skoonmaak. 'n Soortgelyke staking het 'n paar maande gelede plaasgevind.
Volgens die kontrakwerkers het hulle nog geen fondse ontvang nie, alhoewel daar glo beloof is om na die kwessie te kyk.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'