RUGBY NUUS - Môre sal ‘n voorskou wees vir wat die uitspeelrondes kan inhou!
Kan jy dit waag om jou topvier vir die halfeindronde in môre se kragmetings te finaliseer, met Bridgton wat hoop dat een of beide sy teëstanders (Heidelberg en Groot-Brak) vasval in môre se wedstryde? Ons sal moet wag en sien!
Evergreens (2) reis na die Hessequa-streek, Heidelberg (4)
Dit lyk asof Heidelberg besig is om hul oorheersing as die gevreesde span te verloor. Terselfdertyd het Evergreens ook hul spelskepper in die vorm van Jade Stoffels weens ‘n enkelbesering verloor.
Die span van Eddie Myners sal vir seker getoets word in alles fasette van die spel. Heidelberg hoop om die vorige week se loesing teen Bridgton reg te stel deur die rugbygemeenskap te wys dat hulle sal veg om ‘n tuis halfeindstryd, terwyl die res van die distrik meen dat hulle nét dálk hul posisie in die topvier kan verloor.
Evergreens gaan harde klippe kou. Die wen sal uiteindelik na die Pacaltsdorpers se kant toe neig, bloot omdat hulle die vermoë het om goeie plaasvervangers op die regte tyd op die veld te stuur, ‘n vermoë waaroor Heidelberg ongelukkig nie beskik nie. Evergreens loop weg met vier punte.
Crusaders (1) wag vir Groot-Brak (3) op die beeskraal in Parkdene
2022 se halfeindronde (15-12 in die guns van Crusaders) sal homself môre weer herhaal. Dié keer sal Johan Lerm seker maak dat hy al sy skietgoed saambring. Brak kan nie vir een oomblik hul fokus verloor nie. Een span begin goed (Brak); die ander span eindig goed (Crusaders).
Wie gaan oor die nodige kalmte beskik om vir 80 minute ononderbroke konsentrasie en dissipline te behou? Dit gaan ‘n tweestryd wees waarvoor geen rugbyliefhebber hom-/haarself sou kon voorberei nie. Iemand moet wen. Crusaders, met sy eksterne faktore (skare) en wenkultuur asook hul spelers se vernuf om diep te delf, sal hierdie een net-net deurhaak. Geen bonuspunt; slag my maar!
Bridgton (5) gaan kuier vir Barbarians (7),
‘n Veld wat ek glo die mooiste uitsig het om goeie hardlooprugby te aanskou. Charlie Ewerts en kie sal 10 kilometer per uur té vinnig wees vir die manne van Baabaas. Bridgton kom vir die vierde plek. Vir Bridgton om te wen, druk bonuspunt-drie.
George (9) kalk die veld vir Progress (8) op Outeniquapark
Anton Leonard, afrigter van George RFK se span, kom voor asof hy net die seisoen agter die rug wil kry, terwyl die afrigters van die bloutrein, Peter Nel en Grasto Seconds, met ‘n jong en opwindende span wil verseker dat hulle na afloop van hierdie seisoen die Rosemoor-gemeenskap op ‘n goeie noot los.
Progress sal baie meer dringendheid wys en behoort ‘n goeie vertoning te lewer, een wat die wen sal verseker.
Blanco (6) teen Maoris (10) in Blanco
Hoewel Blanco se droom om die uitspeelrondes te haal iets van die verlede is, sal hulle definitief die volgende paar weke goed wil afsluit met die hoop op ‘n meer suksesvolle 2024-veldtog. Maoris het verlede week hul voet uit die relegasie gehaal en behoort die span te wees wat binne die volgende paar weke die punteleer lelik sal wil omkrap. Top vier spanne, Maoris wil julle laat ontspoor. Blanco verdien om hier te wen. Goeie span. Blanco om te wen.
Die relegasie eindstryd, Blues (10) teen Jaguars (11) in Riversdal
Blues moes verlede week Maoris wen om hulself uit die rooi stoel te haal, maar hulle kon nie. Jaguars sal hulself skop weens die feit dat hulle nou moet veg vir oorlewing. My ore is gespits vir wat môre daar by “Sleeping Beauty” gaan afspeel. Gaan Jaguars die hartseer ding doen en Blues terugskop na waar hulle vandaan kom, of sal Blues vir Jaguars laat verstaan dat hul tyd in die premierliga eersdaags verby kan wees?
Daar moet ‘n wenner en ‘n verloorder wees - dit is die lieflike deuntjie van sport. Jaguars moet te ver reis om met ‘n verloor terug na Crags toe te gaan. Jaguars wen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’