GEORGE NUUS - 'n Vrou is met nek en rugbeserings na George-hospitaal geneem nadat sy vroeër vanmiddag, skuins voor 17:00, in 'n ongeluk op die Outeniquapas betrokke was.
Die bestuurder van die motor het glo beheer oor die voertuig verloor, sowat 200 m van die Blanco-afdraai.
ER24-nooddienste was vinnig op die toneel. Van die vier insittendes is net die vrou, wat in die voorste passasiersitplek gesit het, beseer.
Volgens inligting was die voertuig onderweg van Oudtshoorn in die rigting van George toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het en teen die kant van die berghang gebots het.
Die pas is tans mistig, nat en glad weens die reën.
Die ongeluk volg binne 'n uur na 'n ander voertuig op dieselfde plek, sowat 200 m van die Blanco-afdraai, die pad verlaat het. Niemand is tydens die eerste voorval beseer nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'