Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Saam met die vreugde was daar Sondag ook 'n stukkie hartseer toe die nuwe kerkgebou van die United Congregational Church of Southern Africa (UCCSA) in Fortuinstraat, Blanco amptelik in gebruik geneem is.
Dit is 'n lang pad wat gemeentelede moes stap om uiteindelik 'n nuwe kerkgebou te kry. Op die pad was van hulle as gemeentelede aan die ontvangkant van die destydse Groepsgebiedewet en is in die tussentyd oorlede. Die deel van die kerk in Blanco funksioneer as 'n buitewyk van die moedergemeente in Pacaltsdorp.
Eerw. Gerhard Human, huidige leraar van die moedergemeente, sê die kerk bestaan al 205 jaar. Hy is sedert Januarie 2013 by die gemeente betrokke.
Volgens hom het die kerk in Pacaltsdorp oor die jare gegroei. In die 1950's het 'n behoefte ontstaan om 'n buitewyk in Blanco te vestig. Aanvanklik is byeenkomste in 'n huis gehou. Later is 'n stukkie grond in Napierstraat bekom en 'n kerkgebou is opgerig.
In die 1970's het die kerk 'n bevel van die Staat gekry dat hy die gebou moes ontruim ingevolge die Groepsgebiedewet. Die kerk het dit teengestaan, maar die owerhede het vasgestaan en sy besluit deurgevoer.
Van 1972 is dienste toe by St. Mary's Anglikaanse kerk in Blanco gehou. Dit het so aangehou vir 46 jaar.
Oor die jare het die kerk steeds na 'n eie plek gesoek. 'n Nuwe stuk grond is in die laat 1990's onder leiding van eerw. Roland Conley bekom.
In 2009 is daar onder leiding van eerw. Christopher Saaiman begin om die nuwe kerk in Fortuinstraat te bou.
Verlede Sondag is dit toe in gebruik geneem.
Human sê dit was 'n besonderse geleentheid.
"Die geloof van die gemeente het vir hulle gewys enigiets is moontlik."
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'