GEORGE NUUS - 'n Vrou van Rosedale, Delilah Appels (56), het bykans 'n maand in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad deurgebring nadat sy en nog twee vroue, Ellen Swarts (43) en Patricia Gentle (26) op 3 Augustus in Syferfontein aangerand is.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, dui die voorlopige ondersoek daarop dat die 56-jarige en die ander twee slagoffers deur drie gewapende verdagtes met skerp tuisgemaakte wapens aangerand is ná 'n stryery.
"Ons weet nou nog nie wat die rede was dat hulle ons aangeval het nie," sê Swarts. Volgens haar was Gentle en 'n vriendin op pad winkel toe, toe die verdagtes met hulle begin skoorsoek het. Sy sê sy en Appels moes tussenbeide tree waarna die mans hulle aangeval het.
Appels het behandeling ontvang vir beserings wat sy aan haar oog opgedoen het. Volgens haar kan sy steeds nie behoorlik uit haar beseerde oog sien nie en kan sy ook nie werk nie.
Ashwin Davids (33), Philip Baartman (37), Johnny Bailey (27) en Clinton Malan (26) het op 10 Oktober in die George-landdroshof verskyn nadat hulle deur lede van die Pacaltsdorp-polisie, -buurtwag en -GPF in Glentana in hegtenis geneem is. Die vier verdagtes staar aanklagte van poging tot moord asook aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer in die gesig.
Almal behalwe Davids, wat op borgtog van R3 000 vrygelaat is, is in aanhouding. Hulle sal na alle waarskynlikheid op 23 Oktober, wanneer hulle weer in die hof verskyn, 'n borgtogaansoek bring.
Appels sê sy het 'n harde hou teen die kop gekry en verder kan sy niks van die voorval onthou nie. Swarts wat by haar was ten tye van die voorval, sê ná sy bewusteloos geslaan is het een van die verdagtes op haar gaan sit en haar met die vuiste bygedam. Gentle en Swarts het slegs ligte beserings opgedoen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'