Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO- Die gevaar van onverskillige bestuur op paaie is Maandag 2 Oktober op treffende wyse uitgebeeld tydens 'n padblokkade by George en het padgebruikers beslis twee keer laat dink.
'n Nagebootste ongelukstoneel is by die begin van die padblokkade op die N2 opgestel . 'n Voertuig wat op sy dak lê op die middelmannetjie van die pad het baie aandag getrek.
Hierdie padblokkade het deel uitge-maak van Nasionale Vervoermaand, in samewerking met wetstoepassing-owerhede en die private sektor. Die hoofdoel was om mense in te lig oor die belangrikheid van padveiligheid.
Tydens hierdie inisiatief is geskenkpakkies aan padgebruikers uitgedeel, wat nuttige padveiligheidsinligting bevat het. Daarby was daar inkleurpotlode en -boeke vir kinders om 'n opvoedkundige en interaktiewe benadering tot padveiligheid te bevorder.
Daantjie Kat, 'n karakter wat gebruik word om padveiligheid te bevorder, was ook teenwoordig.
Die padblokkade wat Maandag op die N2 gehou is.
Tydens die geleentheid is ook gekyk of voertuie padwaardig is en mense kon uitstaande boetes vereffen.
Lafras Boesak, hoof superintendent van die George-verkeersadeling, bygestaan deur Moffat Zukelwa van provinsiale verkeer en Ruben Lakata van padveiligheidsbestuur van die provinsie, het gesê daar word op verskillende aspekte gefokus. Dit sluit in die padwaardigheid van voertuie, moegheid van voertuigbestuurders, die dra van sitplekgordels en bestuur onder die invloed van drank of dwelms.
VIDEO - Lafras Boesak en Moffat Zukelwa. Video: Eugene Gunning:
Dit was 'n gesamentlike poging tussen die polisie, George-verkeer, Wes-Kaapse provinsiale verkeer en die padveiligheidsbestuursprogram.
Eksterne rolspelers soos maatskappye in die privaat sektor was ook betrokke.
Verskeie aktiwiteite word nog vir die maand beplan. So byvoorbeeld word daar op 20 Oktober 'n kompetisie vir skolierpatrollies in George gehou.
Hy het benadruk dat mense oor niks bekommerd hoef te wees tydens sulke geleenthede nie.
Die padblokkade wat Maandag op die N2 gehou is.
Internasionale geleentheid
Sindisiwe Chikunga, minister van vervoer, het Maandag ten tyde van 'n internasionale geleentheid waar padveiligheid bespreek is gesê Suid-Afrika kan drasties ongelukke verminder en lewens spaar.
Hy het gepraat by die 27ste World Road Congres wat in Praag in die Tsjeggiese Republiek gehou is.
Volgens hom het Suid-Afrika die 11de langste padnetwerk in die wêreld en menslike gedrag is verantwoordelik vir tussen 86% en 94% van alle padongelukke, padsterftes en beserings.
Die hoof van Sanral, Reginald Demana, wat tydens die dieselfde geleentheid gepraat het, het gesê dis duidelik uit besprekings by die kongres dat regulatoriese ingrypings wat gefokus is op die jeug, vrugte begin afwerk in Ierland en Kanada.
Moffat Zukelwa van provinsiale verkeer, Lafras Boesak, hoof superintendent van die George-verkeersadeling en Ruben Lakata van padveiligheidsbestuur van die provinsie.
'n Nagebootse ongelukstoneel Maandag by die begin van die padblokkade op die N2. 'n Voertuig wat op sy dak lê is op die middelmannetjie van die pad geplaas. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’