GEORGE NUUS - 'n Rookwolk in die veld agter Delvillepark het inwoner Archie Stripp Maandagoggend baie ontstel.
Hy was onder die indruk George-munisipaliteit het begin om die veld af te brand, as deel van hul program vir beheerde brande in Oktober en November.
Munisipale woordvoerder Chantel Edwards, het bevestig dat dit nie die geval is nie, en dat die brand inderdaad 'n veldbrand is wat agter Delvillepark ontstaan het.
"Daar was vanaf verlede week periodieke veldbrande in daardie gebied – nie een daarvan, insluitend gister s'n, was 'n beheerde brand nie," het Edwards gesê.
George Herald het voorheen berig (15 September bl 6) oor die veld agter Corporationstraat, wat volgens inwoners deesdae heelwat ongewenste besoekers lok.
In hul vorige kommentaar het George-munisipaliteit aangevoer dat die area (Erf 2309) te groot is en weens die hoeveelheid rommel en welige plantegroei wat daar voorkom nie toeganklik is vir 'n trekker nie.
'n Besluit is deur die parkeafdeling en George-brandweerdienste geneem om die area by die beplande skedule vir beheerde brande te voeg. Die publiek sal wel ingelig word wanneer die brande in hul areas sal voorkom.
Stripp is baie ongelukkig oor hierdie besluit, want hy reken die rook so naby aan die woonhuise gaan probleme veroorsaak vir diegene met bors- en longkwale.
"Veral nou na Covid-19 het baie mense 'n ou hoesie," het hy gesê. Stripp het gehoop dat die groter bome afgesaag sal word.
"Daar is nog 'n aansienlike area daar wat afgebrand moet word en dit sal aangespreek word wanneer die weersomstandighede geskik is," het Edwards gesê.
"'n Openbare kennisgewing sal uitgereik word en die omliggende inwoners sal in kennis gestel word. Let daarop dat enige bome wat nie brand nie, ingevolge die uitheemse plantegroeiprogram verwyder sal word."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'