GEORGE NUUS - Nuus uit ons hof:
Rosedale-moordverhoor gaan voort
Die verhoor van sewe mans wat van die 2017-moord op Gershwin Verlaat (22) aangekla word, is Woensdag 19 Februarie in die George-streekhof voortgesit.
Weens 'n tekort aan tyd, 'n oorvol hofrol en beurtkrag, kon al die getuienis egter nie voor die einde van die week afgehandel word nie en die saak is tot 18 Maart uitgestel.
Charldon Heynes, Marlen Wildeman, Kesharne Mostert en Brenton Pato is reeds sedert hul arrestasie in Desember 2017 in aanhouding. In Junie 2018 is Kenneth Windwaai, Eswyn van Rooyen en Michael Campher in hegtenis geneem.
Hulle word aangekla van moord met voorbedagte rade en/of moord in die uitvoering van 'n gesamentlike doel deurdat hulle na bewering vir Verlaat op 2 Desember 2017 aangerand het.
Sy liggaam is met ernstige kopwonde in Rosedale gevind.
Dié aanval was na bewering 'n wraakaanval na Pato se broer, Johnwin (19), omstreeks 01:00 die vorige nag naby sy huis doodgesteek is.
Die verdagtes word deur Winston Jansen en Clayton Samson van Winston Jansen Prokureurs verteenwoordig.
Die saak dien voor landdros Praglathan Govender en Aspirito White is vir die staat.
Parkdene-moordverdagte doen aansoek om borgtog
Die borgtogaansoek van die moordverdagte, Grant Robertson (33), is Dinsdag 25 Februarie in die George-landdroshof tot vandag, Donderdag 27 Februarie, uitgestel nadat die ondersoekbeampte glo weens mediese redes nie die saak kon bywoon nie.
Robertson word daarvan aangekla dat hy in Julie 2019 sy meisie, Rencia Jafta (37), vermoor het.
Hy is op Sondag 14 Julie in hegtenis geneem in verband met die moord.
Haar liggaam is op Saterdag 13 Julie onder 'n bed in Robertson se hut in Parkdene gevind.
Hy het in Julie 2019 sy borgtog laat vaar, maar het onlangs besluit dat hy wél om borgtog wil aansoek doen.
R30 000 borgtog vir voormalige wetstoepasser
'n Voormalige wetstoepasser van George, Melvin Jacobs (41), wat op Sondag 9 Februarie in hegtenis geneem is vir die besit van dwelms, is verlede Vrydag 21 Februarie, borgtog van R30 000 in die George-landdroshof toegestaan.
Hy en 'n vrou, Liezel Stalmeester (23), is op die N2 net buite George in hegtenis geneem.
Hulle motor is afgetrek, deursoek en 372 gram tik met 'n straatwaarde van R120 000 is onder die sitplek gevind. Hulle het van Port Elizabeth na George gereis.
Vier skootrekenaars is ook in hul besit gevind.
Stalmeester is die volgende dag op borgtog van R5 000 vrygelaat. Buiten die stywe boete, behels Jacobs se borgtogvoorwaardes ook dat hy elke Maandag en Vrydag voor 10:00 by die polisiekantoor moet aanmeld.
Hy mag ook nie George verlaat nie. Jacobs en Stalmeester sal weer op 29 Mei in die George-landdroshof verskyn.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'