George Herald se Facebook-blad het die week gegons na die lafhartige aanval op die bejaarde man wat heel moontlik slegs oorleef het deur dood te speel.
Barendse het voorgegee hy is dood waarna sy tuinier hom beroof en laat spaander het. Hy het vir ure in sy huis gelê voordat mev. Anna Barnard op hom afgekom het. Sy en haar man, Attie, wat gaan visvang het, woon saam met Barendse in die huis.
'n Geskokte Barnard het op die toneel aan die George Herald gesê sy het omstreeks 15:45 by die huis opgedaag en kon nie die voordeur oopsluit nie.
"Ek het agterom gegaan en gesien die deur is oop - die kombuistafel was deurmekaar. Ek het hom bebloed voor die badkamer in die gang gekry. Dit was verskriklik."
Barendse is erg aangerand en een keer in die kop en vier keer in die bolyf gesteek. Hy is Maandag uit die Mediclinic George ontslaan en sterk tans by sy suster in Beaufort-Wes aan.
Volgens Barendse se dogter, Charmaine van Jaarsveldt, het die tuinwerker, wat 'n paar keer voor die aanval by haar pa gewerk het, Donderdag opgedaag waarna Barendse die agterhek vir hom oopgesluit het.
"Hy het vir my pa gesê dat iemand by die voordeur na hom soek. My pa het gaan kyk en toe hy terugkom, was die man binne die huis en het hy hom gedreig. Hy het geld gesoek en hom toe aangerand en met die mes gesteek. Hy het daarna my pa se geld gevat, sy trouring van sy vinger gepluk en sy selfoon gegryp. Ek verstaan nie hoekom hy hom so moes slaan en steek nie, hy kon net die goed gevat het."
Intussen het lesers-posts op die George Herald Facebook-blad afgryse oor die aanval op Barendse, wat deur sy familie en vriende as 'n goedhartige man beskryf word, getoon.
Talle het hul kommer oor die toename in misdaad in George uitgespreek en ander het gesê die tyd het aangebreek dat mense meer betrokke raak by sektor misdaadforums en bewus raak van wat in hul woonbuurte aangaan - veral oor mense wat daar rondloop. Mense is aangemoedig om te begin veg vir hul reg op veiligheid.
Een kommentaar lees: "Ouer mense kom tree af in George omdat hulle dink dis veiliger hier, maar gewelddadige misdaad is oral en mense moet 'n kopskuif maak en so daaraan begin dink en slimmer optree. Leer ken jou bure, stig 'n buurtwag en het 'n plan van aksie in 'n noodgeval. Begin uitkyk vir mekaar."
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, maar die polisie is positief dat hulle binnekort ‘n deurbraak sal maak.
Kapt. Bernadine Steyn, die polisiewoordvoerder het gister gesê hulle soek na 'n tuinwerker, Simon. Twee brode, 'n 2 liter bottel gaskoeldrank en 'n blik konfyt is op Barendse se kombuistafel gevind en behoort vermoedelik aan die verdagte.
"Ons vermoed dat iemand die verdagte iets gegee het om te eet voordat hy na die huis in Laingstraat is," het Steyn gesê.
Voornemende werkgewers word ernstig versoek om aan te dring op 'n ID-afskrif, 'n foto en ten minste een werksverwysing voor hulle 'n persoon in diens neem.
Enigiemand met inligting kan adjudant-offisier Allie du Plessis skakel by 044 803 4715.
* The police are looking for the gardener of Mr Jan Barendse (70), who was attacked with a knife and robbed in his house in Laing Street, George East last Thursday morning. He was left bleeding for hours in front of his bathroom and only found around 15:45. Money, a cellphone and his wedding ring were stolen. No arrests have been made, but police hope to make a breakthrough soon and are looking for a gardener, Simon. Two loaves of bread, a two litre soft drink and a jar of jam were found on the kitchen table that belonged to the suspect. It is suspected that someone gave the suspect something to eat before he went to Barendse's house. Anyone with information is requested to contact the investigating officer Warrant Officer Allie du Plessis at 044 803 4715.

Mnr. Barendse Sondag in sy hospitaalbed saam met vier van sy vyf kinders, Harold, Tilla (agter links), Charmaine (agter regs) en Teriesa.
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'