TUINROETE | KAROO NUUS - Die Suid-Kaap Veteraantrekkerklub het met trots op 4 en 5 Augustus in Hartenbos die Wes-Kaapse Veteraantrekker-en-enjinklubskou aangebied, met die tema ‘Van Toeka tot Nou’.
En ‘n vinnige kykie na die naweek se syfers is genoeg om te besef: daar’s ‘n klomp lekker trekkerkoppe in die Suid-Kaap omgewing, en hulle het na die ATKV terrein in Hartenbos kon stroom om die geliefde ou masjiene na hartelus te bewonder.
Volgens organiseerder en Veteraantrekker-en-enjinklublid Kobus Kuyler was daar ‘n warboel van kinders op beide die Vrydag en Saterdag van die skou, en net oor ‘n duisendtal volwassenes wat tydens die naweek by die kampterrein kom kuier het om te beleef hoe dinge daaruit sien as mens sommer klomp energie spandeer aan die restaurasie van trekkers en ander plaasimplemente.
Christo Pieterse is die voorsitter van Savtek (SA federasie van Veteraan Trekker- en Enjin Klubs), wat in 1988 gestig is met die doel om die land se erfenis in antieke landbou werktuie en masjienerie te bewaar vir die nageslag. En natuurlik was Christo byderhand om eerstehands die streek se eerste skou te kom geniet.
Hy wens die Suid-kaap klub geluk met die aanbieding van so ‘n suksesvolle eerste skou, en voeg by dat ‘n blote museum nooit die volle storie vertel nie.
“Dis ons as klubs se taak om ‘n lewendige demonstrasie te hou met ons skousaamtrekke, waar die enjins en trekkers aangesit en vertoon word. Die klanke van die ou masjienerie is soos musiek in ons ore.”
“Dit is ook ‘n geleentheid waar kinders vrae vra en waar die stories van oupa en ouma-grootjie oorvertel word.”
Hy vertel met groot entoesiasme van die Engine Restoration Challenge wat in 2015 deur Engel geloods is en steeds ondersteun word – ‘n projek wat van die jongspan vereis om ‘n statiese veteraan enjin (ouer as 30 jaar) te restoureer tot sy oorspronklike toestand, en so prakties die nalatenskap laat voortleef.
‘n totaal van 109 trekkers, meer as 30 stilstaande enjins, sowel as tuingereedskap en huishoudelike implemente uit toeka se dae, alles saam op een perseel.
Christo sê die Weskaap skou in Hartenbos, wat deel vorm van die groter Ikoniese Mosselbaai, het die ideale blootstelling gebied – “hier in die hartland van ons kultuur”.
Hy bedank die ATKV kommitee vir hul samewerking, asook Mosselbaai burgermeester Dirk Kotzé vir sy besoek aan die skou. “Dit was ‘n groot eer en ‘n eerste vir ons beweging.”
Stel jou voor: ‘n totaal van 109 trekkers, meer as 30 stilstaande enjins, sowel as tuingereedskap en huishoudelike implemente uit toeka se dae, alles saam op een perseel. Deelnemers aan die skou was nie net Kapenaars nie, maar het gereis vanuit verre streke soos die Noord-Vrystaat en Gauteng.
Daar was boere van Moreesburg wat met drie lorrievragte en sleepwaens opgeruk het, ‘n uitstaller van Villiersdorp met vyf lorries vol gerestoureerde skatte, en natuurlik die land se top bewaarder van ou trekkers, Kobus Groenewald van die Stilbaai distrik, wat met vyf van sy Suid-Afrikaanse pryswentrekkers die skou bygewoon het.
Kobus Kuyer het die laaste woord: “Ons bedank almal betrokke vir die ondersteuning – die plaaslike gemeenskap en besoekers, eienaars en uitstallers, en natuurlik die ATKV. Die Suid-Kaap Oumotorklub was ook fantasties in hul hoogs tasbare aanwesigheid met lieflike voertuie en helder tente, wat tot die feestelikheid bygedra het.”
Hy noem dat daar weer in Desember ‘n kans sal wees vir vakansiegangers om ‘n kleiner vloot van die ou trekkers te kan sien en nooi almal uit om die nostalgie te kom ervaar.
Die volgende geleentheid waar van die klub se trekkers bewonder kan word is tydens George Landbouskou van 24 tot 26 Augustus.
Hy noem dat daar weer in Desember ‘n kans sal wees vir vakansiegangers om ‘n kleiner vloot van die ou trekkers te kan sien en nooi almal uit om die nostalgie te kom ervaar.
Mosselbaai burgermeester Dirk Kotzé.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’