GEORGE NUUS - Adahlia-, Broodboom- en Roosmaryn-straat in Touwsranten spog met pragtige name, maar helaas word hierdie drie strate deesdae geken aan onwettige vullishope wat daagliks groei.
Volgens Cheryl Pietersen, 'n inwoner van Touwsranten, lyk die area soos 'n nes van vullis. Pietersen kla dat Hoekwil, Kleinkrantz en Wilderness gereeld skoongemaak word, maar beweer Touwsranten word afgeskeep.
"Die tweede uitbreiding het oop areas waar daar nog nie gebou is nie, en hier word glo gereeld vullis gestort. Ek verstaan dis die inwoners self wat die plek bemors, maar ons vra hulp," het sy gesê.
Die waarnemende direkteur van gemeenskapsdienste, Allen Paulse, het by navraag gesê sy department verwag dat daar binnekort geld beskikbaar sal wees vir die huur van addisionele voertuie om die woongebiede skoon te maak.
"Daar word volgens 'n program gewerk en Touwsranten is op die lys geprioritiseer," het Paulse gesê.
"Daar is voorheen EPWP-werkers aangestel vir die optel van papiere en gemors in die strate, maar daar is nie weer fondse ontvang vir die aanstelling van werkers vir hierdie diens nie. George-munisipaliteit het met 'n JCB-span die eerste week in Desember 2020 in Touwsranten onwettige stortingspersele skoongemaak."
Onwettige vullishope groei daagliks in Touwsranten.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'