GEORGE-NUUS - Gerugte wil dit hê dat die privaat sektor ‘n groot tekort aan griepentstof ondervind weens die staat se buitengewone groot aankope vir inenting tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi.
In George sit party apteke en dokters reeds sonder voorraad van die entstof.
Die staat het na bewering ‘n bestelling van vyf en ‘n halwe keer meer as gewoonlik by die land se vernaamste verskaffer, Sanofi-Aventis, geplaas het.
Die verskaffer kan egter net teen ‘n sekere tempo produseer en kan glad nie voldoen aan die groot aanvraag wat ontstaan het nie. Die vraag is of die staat die skuld moet kry omdat hy oorboord gegaan het met bestellings, of speel kompetisie tussen die verskeie verskaffers (waaronder Sanofi-Aventis, Solvay en Biovac) dalk ‘n belangrike rol?
Situasie in die Wes-Kaap
Volgens Faiza Steyn, woordvoerder vir die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, het hulle wel meer entstof as gewoonlik ontvang, "maar ons praat nie van miljoene nie", sê sy.
Die Wêreldbeker-sokkertoernooi speel wel ‘n rol in die groter aanvraag. Sy bevestig dat hulle vanjaar reeds 85 128 griepentstofdosisse ontvang het - bykans 35 000 meer as gewoonlik. Hulle hoop om later vanjaar nog te ontvang.
Steyn noem dat hulle vanjaar die kwesbaarste van die bevolking probeer beskerm met ‘n twee-fase inenting. Gedurende die eerste fase, wat strek tot einde Mei, word slegs hawe- en lugdienspersoneel, asook kinders onder 15 wat HIV-positief en onder behandeling is, ingeënt.
Gedurende die tweede fase, wat op 3 Mei begin, word swanger vroue, pasiënte met long- en hartkwale en gesondheidswerkers (waaronder mediese personeel) ingeënt.
Plaaslike situasie
Die gesondheidskoördineerder vir die Eden Distriksmunisipaliteit, Elza Sellars, bevestig dat hul tender vir griepentstof reeds verlede jaar aangevra is. Hulle het egter net die helfte van hierdie aangevraagde hoeveelheid ontvang.
Vanuit die privaatsektor noem Egmond Coetzee, die apteker en eienaar van Coet-zee Apteek, dat hulle krisis nou eers begin: "Aan die begin van elke jaar moet elke apteek wat griepentings doen hulle griepentstof bestel, want dit word op aanvraag ingevoer," sê Coetzee.
"Ons s’n is eers hierdie week opgebruik. Die aanvraag by ons was groter as wat verwag is, hoofsaaklik omdat minder deur ander instansies bestel is en as gevolg van die prysmededinging deur die korporatiewe groepe, wat die wins na minder as R5 per inspuiting afbring, wat nie die salaris van ‘n gekwalifiseerde suster regverdig nie." Verder in die dorp sit verskeie dokters van privaatpraktyke sonder griepentstof wat binne die laaste maand opgeraak het.
Jannie van der Merwe van Morris Apteek sê daar is elke jaar ‘n tekort, maar hierdie jaar was die ergste nog. "En die verskaffers kan nie vir ons ‘n datum gee waarop entstof weer beskikbaar gaan wees nie. Die pro-bleem is dat dit in elk geval waarskynlik te laat gaan wees om nog immuniteit vir hierdie seisoen op te bou."
Artikel: Michelle Pienaar