GEORGE NUUS - Parkdene Sekondêr het vandeesweek onder skoot van 'n plaaslike inwoner, Emily Hood, gekom wat ontevrede is omdat leerders wat nie aan die skool se uniformkode voldoen nie, Dinsdag huis toe gestuur is om dit reg te stel.
Volgens Hood moet die skool dink aan ander maniere om kinders te straf.
"Kinders hoort in die skool. Hierdie tipe straf sal daartoe lei dat kinders straat toe gaan. Van die ouers werk, so hulle weet nie as hul kinders by die huis sit nie. As jou skooltrui gister natgereën het en jy het nie nog een nie, wat moet jy dan aantrek?"
George Herald het Woensdagoggend, 22 Februarie, gesien dat twee sekerheids-beamptes saam met die voorsitter van die skoolbeheerliggaam, Freddy Trout, by die skoolhek staan terwyl die leerders instap.
Nie een is weggewys nie, maar almal het hul skooluniforms aangehad. Een seun is oor sy broek aangespreek en uit die gesprek met die seun kon afgelei word dat hy al voorheen daaroor gewaarsku is.
'n Dogter wat nie skoolklere aangehad het nie, was ook by die hek, maar sy het gesê sy is geskors en wou net oor iets navraag doen.
Die skoolhoof, Derek Petersen, het aan die koerant gesê hulle probeer die dissipline by die skool verbeter.
"Dissipline gaan agteruit wanneer reëls nie nagekom word nie. Daar is kinders wat met duur tekkies skool toe kom, so geld om skoolskoene te koop, behoort dan mos nie 'n probleem te wees nie. Ons leer ons kinders lewenslesse vir die lewe. Ons leerders was nog nooit so netjies nie. "
Volgens Petersen diskrimineer die skool nie teen kultuur nie. "Rastafariërs mag hul hooftooisels dra. Seuns wat deur tradisionele inisiasie is, mag soos vereis wel ander klere dra, maar hierdie seuns is gewoonlik uiters netjies geklee."
Trout het gesê hulle het van die begin van die skooljaar af leerders begin waarsku oor kleredrag en by elke ouervergadering is ouers ook daarop attent gemaak dat hul kinders by die kode moet hou.
"Ons het nie net uit die bloute begin optree nie. Benewens die dissipline en netheid wat ons die leerders wil leer, is daar ook die kwessie van bendelede wat die terrein soms onwettig binnekom en dan wil ons kan onderskei tussen hulle en leerders."
Die skoolhek word toegemaak nadat al die kinders in is. Dié wat laat kom, word uitgesluit.
(Freddy Trout is die stigter van People Against Substance Abuse [Pasa] en was as jongman 'n bendelid en dwelmgebruiker. Pasa implementeer programme by skole om kinders in te lig oor die gevare van dwelmgebruik.)
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'