GEORGE NUUS - Stappers teen die uitbuiting van die eko-sisteme asook natuurlike hulpbronne in Namibië en die Okavango Delta in Botswana, het verlede Maandagaand hier in Pacaltsdorp aangekom.
Die stappers, onder leiding van die aktivis en San jeugleier, Craig 'Q7' Beckett, probeer bewusmaking skep oor die kwessie. Hulle het op 1 Februarie uit Knysna begin stap, en wil binne tien dae Kaapstad bereik waar hulle 'n petisie aan die konsulaat van Namibië en Botswana wil oorhandig.
Hulle het vroeg, Woensdagoggend, weer uit Pacaltsdorp vertrek, en sal by verskeie dorpe aandoen. By van die dorpe gaan nog stappers by hulle aansluit.
Die wêreldbekende, National Geographic, se aanlyn platform het op 28 Januarie oor dieselfde kwessie geskryf, waar hulle genoem het dat daar reeds op 11 Januarie in Namibië begin boor is.
In 'n berig op 28 Oktober 2020, ook op die platform, is daar genoem dat kenners bekommerd is dat dit die belangrike natuurlike waterbronne gaan bederf wat daartoe kan lei dat diere eie aan die area sal swaarkry.
Hier is van die ander Khoi-vroue wat Beckett Maandag verwelkom het. Saam met hulle is van die stappers asook lede van die Pacaltsdorp-perdeklub.
Beckett meen as daar voortgegaan word en toetse gedoen word op soek na olie, kan dit die natuurlike ekosisteem van die area uitroei. Hy meen as enige olie of gas hier gevind word, kan dit daartoe lei dat die pragtige landskap binnekort vol vragmotors en pypleidings gaan wees.
George Herald het op 28 Februarie hieroor berig in die artikel, 'Knysna joins anti-drilling protest' waar Beckett sê hulle sal graag die boorwerk wil stop, en as dit nie gebeur nie, ten minste mense in die proses inlig en betrokke kry oor die proses en wat dit behels voor enige verdere besluite geneem word.
Die stappers se eintlike doel is om die boorwerk heeltemal te stop. "Ons wil dit nie hê nie," het Beckett gesê.
'n Inligtingsessie is Dinsdag in Pacaltsdorp gehou. Beckett en die anders stappers hoop om meer mense in te lig oor die negatiewe impak wat so 'n projek op die natuur van die Okavango Delta en omringende areas kan hê.
Beckett word in Pacaltsdorp verwelkom deur een van die Khoi-vroue, Blanche Benjamin.
Verwante artikel: Knysna joins anti-drilling protest
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'