Update
GEORGE NUUS - Die George-munisipaliteit en die sakegemeen-skap het Woensdagaand, 27 Julie, tydens 'n netwerkgeleentheid van die George-sakekamer, koppe bymekaar gesit. By die funksie, wat in die George-kunsteteater aangebied is, het sakelui lekker gesels en notas uitgeruil.
Die George-munisipaliteit het as gasheer opgetree en dit is deur verskeie senior leiersfigure bygewoon. Sowat 90 verteenwoordigers van die sakegemeenskap was daar.
Vir die munisipaliteit was George se burgemeester, Leon van Wyk, die munisipale bestuurder, dr. Michelle Gratz, stadsraadslede en senior amptenare aanwesig.
Die verskillende departemente het kiosks beman waar lede van die sakegemeenskap eerstehands kon gesels met senior munisipale amptenare.
Die verwelkoming is deur dr. Willie Cilliers, voorsitter van die George-sakekamer, gedoen.
Hy het Van Wyk namens die sakegemeenskap bedank en gesê om sulke gesprekke te begin, is die regte roete na egte samewerking.
Van Wyk gee oorsig
Van Wyk het 'n kort oorsig gegee van munisipale sake en begrotingsaspekte. Hy het ook verwys na uitdagings waarmee die munisipaliteit op 'n gereelde basis te doen kry soos onwettige vullisstorting, onwettige elektrisiteitsverbindings en kabeldiefstal.
Voorts het hy gepraat oor hoe die munisipaliteit die uitdagings van elektrisiteitvoorsiening aanspreek en verder wil aanspreek.
Van Wyk het ook verwys na die talle mense wat uit ander dele van die land 'n heenkome in die gebied kom vind.
Leon van Wyk (George-burgemeester), Koos du Plessis (sakeman) en dr. Michelle Gratz (munisipale bestuurder).
Groot geld
Die burgemeester het 'n paar syfers uitgelig om te wys waarmee die munisipaliteit te doen kry.
Hy het onder meer verwys na van die uitgawes wat die munisipaliteit moes maak om die uitdaging van beurtkrag die hoof te bied. Dit sluit in R2,8 miljoen vir UPS'e (Uninterrupted Power Supply) by van die verkeersligte sodat dit kan werk tydens beurtkrag.
Bystandkragopwekkers is aangekoop om die waterwerke, die rioolwerke en ander infrastruktuur aan die gang te hou. Die koste beloop R15,4 miljoen. Altesaam R6,2 miljoen is bestee sodat straatligte minder elektrisiteit gebruik.
Onwettige stortings kos die munisipaliteit R7,5 miljoen en onwettige elektrisiteitsver-bindings R2,5 miljoen.
Daar was ook 101 voorvalle van kabeldiefstal.
Skuldinvordering die afgelope finansiële jaar was 96,69%. Dit is 'n verbetering op die vorige finansiële jaar.
Verlede maand (Junie) is 534 bouplanne goedgekeur, in Mei 510 en in April 450.
In Oktober verlede jaar het voertuigregistrasies die 100 000 kerf verbygesteek. Dit is nou naby 110 000.
Groei
Daar is ook beweging op ekonomiese en toerisme gebied. Die afgelope maand het die munisipaliteit drie navrae gehad van drie sportkodes wat aanstaande jaar drie internasionale sportgeleenthede in George wil aanbied. As dit realiseer, kan dit televisieblootstelling vir George beteken.
Cilliers het Maandag gesê dis uiters belangrik dat daar samewerking is tussen die sakegemeenskap en die munisipaliteit. Dit gaan oor ekonomiese groei en geleenthede - 'n wen-wen situasie.
"Ons wil hê dat bestaande besighede moet groei en daar moet geleenthede vir entrepreneurs geskep word om werksgeleenthede te bevorder."
Cilliers het benadruk netwerkaande met die munisipaliteit moet gereeld aangebied word.
Die gaste het heerlik genetwerk en idees uitgeruil. Foto's: Eugene Gunning
Vorige artikel: Sakegemeenskap en Munisipaliteit sit koppe bymekaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'