Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Eskom en rasseverskille sal nie Suid-Afrika vernietig nie. Wat Suid-Afrika wel sal vernietig is as mense hul waardigheid verloor en daar nie meer hoop is nie.
Dit was die boodskap van dr. Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers toe hy verlede Donderdag, 22 Junie, gaste by 'n geleentheid toegespreek het wat onder die vaandel van Business Café plaasgevind het.
Daar was groot belangstelling en die geleentheid by die George-skouterrein is deur byna 200 mense bygewoon.
Dit was 'n inisiatief van dr. Dennis Farrell, stigter van die Business Café. Die plan was dat Sooliman George al in Februarie sou besoek, maar hy moes dit uitstel omdat hy Turkye moes besoek om daar te help na aardbewings in die land.
Tydens Donderdag se geleentheid is meer as 100 komberse aan Gift of the Givers oorhandig wat deur aanwesiges saamgebring is. Fondse wat voorsiening maak vir meer as 1 500 etes is ook aan die organisasie oorhandig. 'n Deel van die toegangsgeld is daarvoor gebruik. Gift of the Givers sal die etes versprei waar daar 'n behoefte is.
Sooliman het 'n oorsig gegee van die organisasie se werksaamhede en die toestand van lande wat hy oor die jare besoek het. So byvoorbeeld was hy al in Yemen. Daar is die elektrisiteit byvoorbeeld gesny, daar is nie water nie, geboue en huise is onvoltooid en beskadig.
Mario Ferreira of Gift of the Givers Sedgefield, dr. Imtiaz Sooliman en dr. Dennis Farrell stigter van Business Café.
Hy het ook verwys na die Covid-inperkingstyd in Suid-Afrika en die gevolge daarvan. "Daar was nie motors op straat nie en daar was geen vlugte nie. Maatskappye moes hul deure sluit.
"Tans word verskeie nuwe geboue opgerig en daar is weer vlugte. Daar is mense wat die land aanvanklik verlaat het en nou weer terugkeer."
"Natuurlik is daar vrese en spanning in Suid-Afrika. Die vraag is hoe hanteer mens dit. Die grootste gevaar is 'n negatiewe ingesteldheid. Al is jy hoe sterk, as jy verlam is kan jy nie beweeg nie.
Suid-Afrikaners het 'n verantwoordelik-heid om dinge reg te maak. Die land behoort nie aan die regering nie. Die land behoort aan die mense en die gemeenskap. Die land behoort aan ons. Die see en die berge behoort aan die inwoners."
Volgens hom is Suid-Afrika 'n unieke nasie. Die land sal nie in vlamme opgaan nie. Die jaar 1994 was 'n keerpunt. Nie omdat 'n wit regering met 'n swart regering vervang is nie, maar omdat die mense gepraat het.
VIDEO: Gift of the Givers leier in George
Hy het benadruk die waardigheid van mense moet teruggegee word. As daar iets is wat 'n land kan vernietig is dit ego's. Hy het gewaarsku teen ego's en gierigheid.
Farrell het Maandag gesê die geleentheid was 'n groot sukses. Gesprekke is reeds aan die gang om Sooliman weer na George te laat kom.
Hy glo die rede vir Sooliman se sukses is omdat hy dade by woorde voeg.
"Hy wil regtig mense se lewens verander."
Met die oorhandiging van die komberse. Grant Livesey, (links) Lynette Ferreira, Mario Ferreira, dr. Imtiaz Sooliman, Jacques Bussack en Bernard Bussack.
Dr. Imtiaz Sooliman spreek aanwesiges toe. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’