GEORGE NUUS - Die bestuurspan van Conville Primêr het vanoggend opgedaag by die skool, maar weier om die skoolterrein te betree, sê die skoolhoof Sam Crowley. Hy sê hy kan hulle nie forseer om in te gaan nie.
Volgens Crowley dring sy span daarop aan om vir Covid-19 *gesif (screen) te word voordat hulle die skoolterrein betree. Sifting behels onder meer die neem van ‘n persoon se temperatuur. Crowley sê sy span volg net die mandaat van die onderwysunies wat daar is om hulle te beskerm.
“Ons het reeds skoonmaakmiddels gekry, maar nog geen maskers, handskoene of termometers nie.”
Parkdene Sekondêr
Ook Derick Petersen van Parkdene Sekondêr sê sy span het aangemeld, maar het beswaar gemaak omdat daar geen maskers of handskoene is nie, hulle het wel skoonmaakmiddels gekry. “Hulle wil hê hul temperature moet gemeet word voordat hulle die skool betree. Dit is die vereiste van die department van onderwys en gesondheid is veronderstel om dit te doen.”
WKOD
Bronagh Hammond, die kommunikasiebestuurder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), sê die aflewering van skoonmaakmiddels is steeds aan die gang. Sy sê die nasionale minister het reeds gevra bestuurspanne moet eerste by skole aanmeld sodat hulle die skoonmaakmiddels en ander goed in ontvangs kan neem, asook begin voorberei vir die terugkeer van onderwysers op 25 Mei.
“Almal moet in elk geval maskers dra voor hulle hul huise verlaat. So onderwysers moet intussen hul eie maskers dra tot die addisionele maskers afgelaai word.”
Aflewering van die addisionele middels gaan gedurende die week plaasvind.
Onderwysvakbonde het skoolbestuurspanne aangeraai om nie by skole aan te meld as hul skole nie gereed is ingevolge die Covid-19-regulasies nie.
Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, hou môremiddag (Dinsdag 19 Mei om 16:00) ‘n mediakonferensie waarin sy sal praat oor die skole se gereedheidsvlakke.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'