TUINROETE NUUS - 'n Paar skoolhoofde in die Tuinroete het onlangs weens Covid-19 gesterf.
Die hoof van Heidedal Primêre Skool in George, Irvin Scheepers, wat op 28 Desember oorlede is, was een van die gevalle.
Boodskappe van skok en bemoediging het op die skool se Facebook-blad ingestroom na die nuus van hul geliefde skoolhoof se dood.
Scheepers het diep spore in die gemeenskap van Borcherds getrap met sy passie vir die skool en sy kinders.
Scheepers word oorleef deur sy vrou, Melanie, en twee seuns.Irvin Scheepers
George Herald het ook verneem dat twee ander hoofde in die Tuinroete gesterf het, Christopher Stander van Knysna Sekondêre Skool en Jan Grootboom van Hoogekraal Primêre Skool. Stander het op 19 Desember 2020 gesterf.
Hy was vir die afgelope vier jaar hoof in Knysna nadat hy 25 jaar lank 'n onderwyser by die skool was. Blake Linder van Knysna-Plett Herald het met sy familie gesels, wat met groot lof van hom gepraat het.
'n Familielid, Ralph Stander, het aan Linder gesê dat Stander 'n baie pligsgetroue hoof was en dat hy tot selfs 'n week voor sy dood by die skool gewerk het.
Grootboom is ook einde Desember oorlede.
Volgens die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het 86 onderwysers in die provinsie as gevolg van Covid-19 of verwante siektes gesterf. Die woordvoerder van die WKOD, Bronagh Hammond, sê die sterftes is slegs 0,26% van die land se onderwysers.Jan Grootboom
Hammond het ook bevestig dat, sedert Maart 2020, sowat 464 onderwysers in die Eden en Sentraal Karoo onderwysdistrik die koronavirus gehad het.
"Daar was 426 gevalle waar onderwysers wel herstel het en 14 sterftes. Daar is ook 24 aktiewe gevalle," sê sy.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'