GEORGE NUUS - Dit was soos enige ander dag by die werk, tot daardie een oproep wat haar lewe in soveel verskillende aspekte heeltemal verander het.
Hierdie oproep was gemaak deur Anneline Smith van Oudtshoorn en aan die ander kant van die telefoonlyn was Janine Pretorius, van die ACVV Môreson Kinder- en Jeugsorgsentrum.
Anneline wou weet of dit nie dalk moontlik sou wees om skoenbokse vir die kinders van die sentrum in te samel vir Kersfees nie. Janine, getrou aan haar geaardheid, het nie twee keer daaroor nagedink nie.
Saam het die twee nie op hulle laat wag nie en ingespring om die droom 'n realiteit te maak. Die belangstelling het hul wildste verwagtinge oortref deurdat hulle vir elke kind daardie jaar nie net een nie, maar selfs twee skoenbokse kon gee, en so is die Skoenboksprojek begin.
Met hierdie twee ystervroue aan die stuur, het die projek later so uitgebrei dat hul nie net een organisasie nie, maar vele ander regoor die streek jaarliks met skoenbokse kan seën.
Janine hanteer die George en nabye omgewing se geskenkbokse en Anneline die in Oudtshoorn. Hulle het intussen ook vir Yolandi Claassens nadergetrek, wat die Mosselbaai bokse hanteer.
Hoe jy kan help
Wanneer jy jou verbind tot 'n boks, sal jy 'n kind of bejaarde se naam ontvang vir wie jy dan 'n skoenboks moet vul, tot en met die waarde van R250 (vir eenvormigheid).
Daar is geen amptelike vereistes van wat alles in die skoenboks moet wees nie, behalwe dat 'n lekkerny absoluut verpligtend is. Hierdie maak die skoenbokse natuurlik uniek, want daar is nie voorgeskrewe items in die bokse nie, wat beteken die boks word spesiaal vir die betrokke kind of bejaarde gepak.
Indien jy nie self die skoenboks kan pak nie, maar steeds 'n boks wil borg, is jy welkom om 'n finansiële bydrae te maak en een van die organiseerders sal namens jou die boks gaan aankoop.
Die volgende organisasies word vanjaar by die sestiende skoenboksprojek gehelp:
- ACVV Môreson Kinder- en jeugsorgsentrum (George)
- Badisa (George)
- ACVV Kinder- en jeugsorgsentrum Huis Triomf (Oudtshoorn)
- Solidariteit Helpende Hand (Oudtshoorn)
- Mossel Bay Care Centre (Mosselbaai)
- Britsevlakte NGK Primêr (Willowmore)
- Huis Gert Greeff (Willowmore)
- Le Taylder-ouetehuis (Uniondale)
Indien jy graag betrokke wil raak of enige verdere navrae het, kan jy enige van die organiseerders kontak by:
- Janine Pretorius by 083 244 3228 of (ninabrandt.pretorius1@gmail.com)
- Anneline Smith by 084 703 5000 of (annieoudtshoorn@gmail.com)
- Yolandi Claassens by 083 978 3913 of (yclaassens@yahoo.com)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’