GEORGE NUUS - 'n Skildery van 'n kunstenaar van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Mond- en Voetskilders, Patrick Botto (50), gaan help om boere, wat as gevolg van die droogte swaarkry, se nood te verlig.
Botto het die skildery, wat 'n windpomp en plaasdam uitbeeld, aan die South African Water Warriors geskenk en dit kan nou in 'n kompetisie gewen word.
Botto het vertel dat hy die skildery van 'n windpomp in 2014 gemaak het. Hy het vier verskillende foto's/prente gebruik en dit het hom sowat 'n maand geneem om te voltooi. Hy het dit onlangs laat raam en aan die instansie geskenk.
Botto en die Mond- en Voetskilders se paaie het in 1998 gekruis. In 2000 is hy as student aangestel en in 2015 assosiasielid. Hy het al verskeie skilderye vir die instansie gemaak en verlede jaar het hy hom permanent in George gevestig. Pieter du Plessis van die Water Warriors en Botto se paaie het by die Volle Evangelie Kerk in George gekruis.
Botto het altyd gesien hoe bring mense leë kanne vir water na die kerk wat dan deur Water Warrriors gebruik word.
Botto het die skildery geskenk omdat hy op dié wyse wil help. Die instansie help onder meer diere en ook plaaswerkers met kos. Du Plessis het gesê die skildery help baie.
Lootjies word verkoop teen R100 elk. Daar word gehoop om sowat R10 000 op die wyse in te samel.
"Dis 'n groot geskenk wat Patrick gegee het. Sy werk is wêreldklas. Mense kry geleentheid om 'n versamelstuk te bekom. Ons waardeer sy gesindheid en goedhartigheid."
Die skildery van Patrick Botto wat gewen kan word
Volgens Du Plessis moet dit in gedagte gehou word dat dit tussen R18 000 tot selfs R40 000 kos om 'n vrag voer te vervoer. 'n Goedgesinde maatskappy het reeds ingestem om 'n vrag voer na 'n spesifieke gebied te neem.
Die geld wat met die kompetisie ingesamel word, sal help om die brandstofkoste van 30 ton voer te dek.
A painting by a member of the Mouth and Foot Painters Association, Patrick Botto, can be won in a competition and the funds will be used by the South African Water Warriors. The organisation helps farmers, other stakeholders and animals that suffer because of the drought.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'