GEORGE NUUS - Die Vryburger Omgeemense van George hou weer 'n familieskietdag ten bate van die nasionale Kos vir Kinders-projek. Dit vind Saterdag 25 Maart by die On Target-skietbaan tussen 08:00 en 14:00 plaas.
Volgens die organiseerders beloof dit om 'n dag van pret vir die hele gesin te wees.
Verskeie skietkompetisies sal beloon word met lekker pryse. Daar is skiet-kompetisies met onder andere 'n jaggeweer, 'n haelgeweer, 'n handwapen, windbuks asook kettieskiet.
Daar is 'n lekker verrassing wat wag op die adrenalien entoesiaste met 'n 'stormteiken' wat platgetrek moet word. Staan 'n kans om 'n slaglam te wen as jou korrel in is.
Die dag word afgesluit met 'n tombolatrekking wat oor die laaste ses maande gestrek het.
Tydens die geleentheid gaan 'n R50 000-koopbewys by Wildman George weggee word.
Dis alles deel van die George Vryburger se fondsinsameling. Hulle voorsien sowat 105 skoolgaande kinders in George en omgewing elke skooldag van 'n gesonde kospakkie. Dit is soms die enigste kos wat die kinders en moontlik hul gesinne op 'n dag kry.
Die George Vryburgers nooi die George-gemeenskap om hande te vat en die Vryburgers te ondersteun tydens hierdie dag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'