GEORGE NUUS - Na aanleiding van 'n onlangse berig in George Herald oor die Bread of Life-sopkombuis van Gustaviano Appels van Parkdene, het Seesa George se personeel besluit om hul jaareindfunksie se fondse aan Gustaviano te skenk.
Guilermo Meyer van Seesa George het op 30 November die skenking van R4 000 aan Gustaviano gemaak wat hy kan aanwend by Golden Harvest, OBS Slaghuis en Gasco om sy sopkombuis te bedryf.
Seesa George moedig ander besighede aan om ook hierdie projek te ondersteun.
Die Bread of Life-sopkombuis, wat verlede jaar tydens die Covid-19-inperking deur Gustaviano, Parkdene Sekondêr se hoofseun, begin is, vier die komende naweek sy eerste verjaarsdag met 'n driedaagse program vir kinders en hoërskoolleerders.
Die span beplan 'n braaidag vir die kinders asook 'n kampprogram vir hoërskoolleerders as deel van die vieringe van 10 tot 12 Desember.
Die span van Bread of Life is ook opgewonde om die amptelike bekendstelling van 'n splinternuwe gebou wat as Bread of Life se kombuis dien, te vier. Dit is deur Soul Food en Arms of Care geskenk.
Vir meer inligting kontak Gustaviano op Facebook of stuur 'n WhatsApp-boodskap na 060 395 4719 of 065 522 6863.
Gustaviano (voor links) saam met die personeel van Seesa George.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'