Beamptes van SANParke het verlede Woensdagoggend begin om die kampe waarin hulle hul diere aangehou het af te breek. Beeste, skape en varke word tans in van die kampe aangehou wat steeds staande is, of wei rond in die omgewing.
Die gesinne wat in Beervlei woon is werkers van SANParke, terwyl die gesinne in Farleigh bestaan uit onder meer afgetrede werkers van die departement van waterwese en bosbou.
Sowat ses gesinne in Farleigh staar boonop moontlike uitsettings in die gesig. Hulle het onlangs 'n tweede uitsettingsbrief van SANParke se regsverteenwoordigers ontvang.
Hierdie is egter 'n proses wat al meer as vyf jaar gelede begin is, het Nandi Mgwadlamba, kommunikasiebestuurder van SANParke, aan die George Herald gesê.
"Hulle weet van dag een af dat hulle alternatiewe behuising moet vind. Hierdie mense is nie werknemers van SANParke nie, hulle huur die huise."
Volgens Mgwadlamba is al die regte prosesse gevolg om die uitsettingsbevele te bekom.
Wat die lewende hawe betref, voer Mgwadlamba aan dat lewende hawe en troeteldiere nie in 'n nasionale park aangehou mag word nie.
"Sulke diere kan die natuurlike patrone en ekosisteem van die park versteur. Ook hierdie inligting is 'n geruime tyd gelede aan inwoners verskaf. Dit is nie 'n nuwe saak nie."
Inwoners veg terug
Angela Conway, hoof uitvoerende beampte van die Southern Cape Lands Committee (SCLC) het verlede
week dié aksie van SANParke in 'n brief skerp veroordeel.
"Die inwoners het al die jare diere aangehou – van die dae van Kringe in 'n Bos," het Conway gesê.
"Hierdie diere word gebruik om hul inkomste aan te vul."
Cyril Fam, 'n assistent veldbewaarder van SANParke, moes verlede Woensdag op bevel van sy seksiebestuurder 'n span werkers na die kampe neem om dit te begin afbreek.
"Ek het drie ongemerkte beeste wat nou op plaaspaaie rondloop. My ses skape bly nou in my blomtuin in my agterplaas," het hy gesê.
Volgens Fam is sowat 13 gesinne van Beervlei se lewende hawe in dié kampe aangehou, wat vroeër gebruik is om perde aan te hou wat behoort het aan die departement van waterwese en bosbou.
Nadat die inwoners vroeër vanjaar briewe ontvang het waarin hulle aangesê word om van hul diere ontslae te raak, wou die gemeenskap graag inligting oor hul regte ontvang, het Conway bygevoeg.
"Hulle voer met reg aan dat hul reg om lewende hawe aan te hou beskerm word deur bepaalde wetgewing (the Extension of Security of Tenure Act)."
Volgens Conway wil die bosbougemeenskappe verplaas word onder die regsgebied van Knysna-munisipaliteit.
Sy het ook haar kommer uitgespreek oor die gesinne wat moontlik hul tuistes in die bosbougemeenskap gaan verloor.
"Aanvanklik is die inwoners (wat uitsettingsbevele ontvang het) beloof dat hulle in Karatara gehuisves sal word, maar nou sê owerhede dat die dorp 'vol' is," het Conway gesê.
Paul Oelf, 'n werker van SANParke wat tans in Farleigh woon, het sy kommer uitgespreek oor die pensioenarisse wat dalk hul huise kan verloor.
"Ons is bekommerd oor ons diere, maar ook oor die oumense wat dalk sonder 'n huis gaan sit," het hy gesê.
Optog beplan na munisipaliteit
Intussen beplan die geaffekteerde inwoners, sowel as inwoners van 16 ander bosbougemeenskappe van George tot in Knysna, 'n optog op 2 Augustus na die Knysna-munisipaliteit. Dit is nog onseker waar die optog gaan begin.
Mgwadlamba het bevestig dat SANParke bewus is van hierdie reëlings.
Op 'n vraag of SANParke bereid sal wees om oor die saak te onderhandel, het Mgwadlamba geantwoord dat dit 'n regsaak is.
"Dit kan die uitkoms beïnvloed indien daar oor die uitkoms bespiegel word. Dit is beter om die proses sy gang te laat gaan," het sy gesê.
Die heinings van kampe waarin vee by Beervlei (naby Wildernis) aangehou is, word sedert verlede Woensdag deur SANParke afgebreek. Foto: Southern Cape Lands Commission
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George Herald, Tuinroete nuus'