Die mans is by 'n 'misdaadnes' in Rebeccastraat verjaag en die polisie moes bontstaan om die skare te beheer. Die vensters van die 'lêplek' van die mans is stukkend gegooi en hulle besittings is oorkant die pad aan die brand gesteek.
Dit volg na gesteelde items in die huis gevind is.
Inwoner Sandra Jacobs sê skelms besteel die mense dag en nag en dat hulle nou die woonbuurt gaan "skoonmaak". "Ons het genoeg gehad. Die polisie doen niks. Ons gaan ontslae raak van die tikhuise en drankverkopers."
Henrica Veldman berig inwoners het Vrydag 14 Februarie by die Rosedale-supermark byeengekom om die situasie te bespreek. Hulle het gesê hulle is moeg om handjies gevou te staan en toekyk hoe misdaad oorneem. "Dit lyk asof die polisie die kriminele beskerm, maar intussen word ons kos selfs van die stoof af gesteel."
Hulle het gekla dat Pacaltsdorp se polisie niks beteken nie. "Ons kry eerder reaksie van die Conville-polisiekantoor. Omdat die polisie nie wil werk nie, moet ons self die polisiewerk doen en ons gaan nou die strate patrolleer." Een vrou het gesê sy en haar man waak snags om die beurt om te verhoed dat skelms hulle besteel. "Die oomblik as 'n mens slaap dan gebruik inbrekers 'n kredietkaart om ons vensters oop te maak. Dit gebeur oor die hele Rosedale. Ons kry geen rus nie."
Inwoner Sharleen Titus het vir die George Herald na 'n berugte deurloop langs haar huis geneem. "Die paadjie moet toegemaak word. Hier gebeur gereeld nare dinge. Ek voel onveilig."
Die oopgetrapte paadjie loop tot in Thembalethu waar 'n gewilde taverne glo die wortel van die kwaad is. "Baie mense gaan drink daar en kom dan dronk-dronk terug."
Raadslid Clareen Remas het ook die toneel besoek en met die inwoners oor hulle griewe gepraat. Sy het die huisnommer van die beweerde skelms afgeskryf om uit te vind aan wie dit behoort.
Kapt. Bernadine Steyn, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê niemand is in verband met die voorval gearresteer nie.
"Ons wil die gemeenskap maan om hulle self nie skuldig te maak aan kriminele oortredings deur die reg in eie hande te neem nie. U word versoek om inligting met betrekking tot kriminele aktiwiteite onder die aandag van die polisie te bring en die gereg sy gang laat loop."

Daar word altyd vir die kamera geglimlag, maar dié mense is kwaad. Van die inwo-ners voor die gewraakte huis saam met raadslid Clareen Remas (derde van regs) is van links: Volenté McKenzie, Janene Jantjies, Sandra Jacobs, Delores Claassen, Jonathan Smith, raadslid Remas, Maria Williams en Mariska Esau. Foto's: Myron Rabinowitz

Al wat oorgebly het van die beweerde misdadigers se besittings nadat ontstoke Rosedalers dit aan die brand gesteek het.
ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD, GEORGE HERALD-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'