Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Weldoeners het verlede Vrydagoggend, 2 Oktober, vir groot vreugde by die Rosemoor-dienssentrum gesorg toe 'n rolstoel aan hulle geskenk is. Dit is deel van die Pay it Forward RSA - PHP-projek wat 'n paar maande gelede in George van stapel gestuur is met die doel om welwillendheid te bevorder en te versprei.
Die dryfkrag agter die projek, wat verkies om anoniem te bly, het gesê die idee kom van die rolprent Pay it Forward. Verskeie mense en instansies is reeds hierdeur gehelp. Die gedagte is om dit ook na ander dele van Suid-Afrika en selfs die buiteland te versprei.
Gavin Brown, een van die woordvoerders van die projek, het die oorhandiging waargeneem en gesê dit is 'n plesier om te help.
Volgens hom het almal uitdagings en dié is net 'n klein daad van welwillendheid. "Alles wat ons het, kom van God."
Henry McCombi, waarnemende bestuurder van die sentrum, het gesê daar is op die oomblik 180 inwoners en daar word een maaltyd per dag bedien. Daar word ook basiese dienste verskaf soos byvoorbeeld hulp met mediese afsprake.
Hy het sy waardering uitgespreek vir die skenking van die rolstoel. Dit sal 'n groot verskil maak aan die lewens van bejaardes. Die instansie is grootliks afhanklik van skenkings van die publiek. "Elke bietjie help."
Kyk 'n video hieronder:
Covid-19 stel groot uitdagings aan die land en ook aan bejaardes wat 'n kwesbare groep mense is. Dit is moeilik om in die omstandighede te funksioneer. Volgens hom het die instansie se inkomste tot die laagste vlak ooit gedaal.
In die verlede kon hulle byvoorbeeld die saal uitverhuur vir bykomende inkomste, maar met die streng inperkingsmaatreëls was dit onmoontlik. Ongelukkig kon bejaardes as gevolg van die stappe ook nie die terrein verlaat nie.
Pottie Potgieter, wat ook optree as woordvoerder van die projek, het 'n beroep op ander sakeondernemings gedoen om ook betrokke te raak. Hulle kan met hom by 082 539 0884 of met Brown by 084 550 5511 in verbinding tree.
Henri McCombi (links) waarnemende bestuurder van die Rosemoor-dienssentrum by Gavin Brown wat namens die Pay it forward RSA-PHP-projek 'n rolstoel oorhandig het. Foto: Eugene Gunning
Henri McCombi (links) waarnemende bestuurder van die Rosemoor-dienssentrum by Gavin Brown wat namens die Pay it forward RSA-PHP-projek 'n rolstoel oorhandig het. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'