GEORGE NUUS - Rika Venter (88), 'n bekende voormalige inwoner van George en stigter van die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue, is Dinsdagoggend oorlede.
Haar kleindogter, Angelique Erasmus, sê Venter het verlede week 'n beroerte gehad. "Sy het vandaar agteruitgegaan en is Dinsdagoggend rustig in haar slaap oorlede. My oupa, Thinus (94), is 'n maand en 'n week terug oorlede."
Haar ouma en oupa, wat die afgelope 10 jaar op Oudtshoorn gewoon het, was 69 jaar getroud.
"Ek het baie by my ouma geleer. Veral van vrouwees. Ons as familie is dankbaar dat ons hulle so lank in ons lewe kon hê en ook vir die feit dat hulle hul agterkleinkinders ook kon leer ken."
Venter was alombekend as 'n formidabele vrou wat baie deure in die sakewêreld vir vroue oopgemaak het.
Sy het die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue in 1988 gestig en was ook die eerste president daarvan. Sy was ook die eerste vrou wat in die hoofbestuur en dagbestuur van die AHI gedien het asook in die dagbestuur van die Johannesburg Afrikaanse Sakekamer (JAS).
Sy en haar man, oorspronklik van Johannesburg, het 22 jaar gelede na George verhuis en woon die laaste tien jaar in Oudtshoorn.
Hulle was die eienaars van die Artistico Kunsgalery in George.
Die egpaar word deur vyf kinders, twee dogters en drie seuns, 12 kleinkinders en nege agterkleinkinders oorleef.
Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'