Dit was die woorde van die Eden-distriksraad se uitvoerende burgemeester, mnr. Wessie van der Westhuizen, tydens ‘n erediens vir politieke ampsdraers. Van der Westhuizen het ook gesê hy kan nie ‘n dienaar van die gemeenskap wees, alvorens hy nie God se seën oor sy roeping kry nie.
Dié historiese erediens, waartydens die Here se seën op raadslede van regoor die Suid-Kaap uitgespreek is vir die diens wat hulle aan die gemeenskap moet lewer, het die afgelope Sondag in die AGS Kerk, Pacaltsdorp, plaasgevind. Kerkleiers van regoor die Eden-distrik het ook die kerkdiens bygewoon.
AGS Pacaltsdorp se pastoor Allen Spies, het aan die poltieke ampsdraers gesê: "Indien ons ernstig is om ons gemeenskappe te herbou en versterk, moet ons vandag sê dat dit ‘n gesamentlike poging gaan verg, ‘n span eerder as ‘n individu, ‘n simfonie eerder as ‘n solo. Vir te lank het ons die leuen geglo dat kerk en gemeenskap of die kerk en politiek, geskei moet word."
Biskop Brian Marajh het aan die verskillende leiers en die gemeenskap gesê dat almal hier is met ‘n doel en dat die Here almal wil gebruik om die streek te seën.
Van der Westhuizen het beklemtoon dat van sy hoof fokusareas vir hierdie regeringstermyn sal wees om die omstandighede van plaaswerkers te bevorder en te ontwikkel. "Plaaswerkers is ook God se kinders."
‘n Ander fokusarea wat hy beklemtoon het is om rassisme vir eens en vir altyd uit te roei.
Van der Westhuizen het die Kerk genooi om hande te vat met die politici, sodat ‘n gesamentlike poging aangewend kan word om verandering in die Eden-gemeenskap te bring. Hy het afgesluit met die woorde: "’n Nuwe seisoen het aangebreek. Die politiek kan ook God se pad volg."
Ná die politieke ampsdraers ‘n verklaring afgelê het, het die gemeente gesing en gejuig ter ondersteuning van die feit dat politiek en die Kerk van nou af ‘n pad saam sal stap ter ontwikkeling en bevordering van die gemeenskap van die Eden-distriksmunisipale gebied.
.jpg)
Onder die politieke ampsdraers wat Sondag se seëndiens in die AGS Kerk, Pacaltsdorp, bygewoon het, is die Eden-burgemeester, mnr. Wessie van der Westhuizen (derde van links), George-burgemeester, mnr. Charles Standers (tweede van links) en Eden-onderburgemeester, mnr. Lionel Esau (vyfde van links).
ARTIKEL EN FOTO'S: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS