GEORGE NUUS - September is Internasionale Alzheimer's Bewusmakingsmaand en om die boodskap uit te dra, loods 'n plaaslike begrafnismaatskappy, Sonja Smith Begrafnisgroep, verskeie gemeenskapsprojekte, asook 'n kompetisie ten bate van Adasa (Association for Dementia and Alzheimer's of South Africa).
Die projekte beoog om die publiek te betrek by bewusmaking van die gevreesde siekte.
Op Maandag 25 September, net ná Erfenisdag, word 'n bewusmakings-geleentheid vanaf 10:00 tot 14:00 by die Tuinroete Botaniese Tuin gehou met die tema "Memories Matter".
Pretstap
Deelnemers sal die 2 km-lange Mushroom Meander stap en/of 'n familie-piekniek en mark in die pragtige tuin kan geniet.
Donasies van R20 per volwassene en kinders 12 jaar en ouer ten bate van Adasa is betaalbaar by registrasie. Kinders onder 12 jaar stap gratis saam.
Piekniek
Die publiek word uitgenooi om die piekniek en mark te ondersteun. Indien jy 'n geliefde het wat tans aan Alzheimer se siekte of demensie ly, of reeds gesterf het, bring gerus 'n foto saam vir die gedenkmuur. Almal is welkom.
Vroetelprojekte
Vroetelprojekte, waar vroetelvoorskote, -kussings asook vroetelmoue vir mense wat met Alzheimers en demensie saamleef gemaak word, skop af op 21 September.
Daar gaan 'n prys wees vir die beste drie items in elke kategorie, wat 'n naweek vir twee persone in Witsand insluit.
Die voorskote/kussings/moue wat ingesamel is, gaan aan die plaaslike tehuise/versorgingsoorde wat met Alzheimer's en demensielyers werk, geskenk word.
Die sluitingsdatum is 31 Januarie 2024. Tien finaliste gaan gekies word in elke kategorie wat in Februarie 2024 hul handewerk gaan vertoon by 'n modeparade waartydens die wenners aangekondig sal word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’