GEORGE NUUS - Parkdene Sekondêr het Maandag 16 Oktober geskiedenis gemaak toe die matrikulante van 2017 hul eksamennommers in deftige togas ontvang het.
Clemizia Cupido, gr. 12-graadhoof, sê die aangeleentheid het,
"Ouers aangespoor om hul kinders te vergesel na hul laaste skooldag, net soos op hul eerste skooldag."
Cupido sê dit sal ideaal wees om jaarliks matrikulante se afskeid en nommerdag so spesiaal aan te bied, sodat 'n nuwe kultuur wat die leerders motiveer gevestig kan word.
Drie matrikulante, Allan Gxekwa (hoofseun), Coleen Mathabata (hoofdogter) en Wendoline Boesak (Dux-leerder) stem saam dat die verrigtinge van die afskeidseremonie voorwaar 'n onvergeetlike middag was.
Die leerders sê hulle het moed geskep uit pastoor Allan Spies se bemoedigende boodskap dat dit nooit onmoontlik is om bo omstandighede uit te styg nie, selfs 'n pampoen wat op die ashoop geplant is groei tot 'n mooi pampoen.
Die klas van 2017 in hul togas.
Die skoolhoof, Rodney Cupido, sê hy wens die 140 matrikulante voorspoed toe met hul nasionale matriekeksamen en weet dit is in die leerders se vermoë om goed te kan presteer.
Sy visie is om leerders te bemagtig.
"Parkdene Sekondêr moet leerders produseer wat verantwoordelike burgers is en wat positief sal bydra tot ekonomiese groei."
Rodney Cupido bedank die persone wat bydraes en donasies gelewer het om die afskeidseremonie 'n sukses te maak.
Clemizia Cupido, gr. 12-graadhoof, (links) en Rodney Cupido, skoolhoof, saam met drie matrikulante wat goeie meriete gelewer het in die 2017 akademiese jaar, Wendoline Boesak (Dux-leerder), Allan Gxekwa (hoofseun) en Coleen Mathabata (hoofdogter). Foto: Brümilda Swartbooi
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'