Gallery Video
GEORGE NEWS EN VIDEO - Parkdene Sekondêre Skool se 176 matrikulante van 2023 het uitstekend gevaar en vir die skool 'n slaagsyfer van 90,8% in die sak gebring.Dis 'n verbetering van 9% op 2022 (81,8%) en 'n 23,3%-verbetering op 2020 (67,5%).
Uit die 14 vakke waarin eksamen afgelê is, het die skool in agt vakke 'n 100%-slaagsyfer behaal.
Die waarnemende hoof, Philip Rothman, het gesê dis 'n absolute hoogtepunt vir die skool. "Ons het 'n syfer van in die middel 80's verwag, so dis vir ons 'n groot verrassing."
Rothman het gesê die sukses van die matrikulante is te danke aan die leierskap van die vorige hoof, Derick Petersen wat aan die einde van verlede jaar afgetree het ná vier jaar as prinsipaal.
Sy toewyding en positiewe benadering het die personeel en leerders geïnspireer. Hy was ingestel op die onderwysers se welstand en het hulle ondersteun, onder meer deur broodnodige hulpbronne te bekom. Daar is ook gekonsentreer op die ingesteldheid van die leerders en baie is ingesit om hulle by te staan met hulle studies.
"Die gemeenskap van die skool is ook baie nouer by die skool betrek. Een van die positiewe uitvloeisels hiervan was dat daar geen insidente van inbrake en vandalisme in die laaste twee jaar was nie, terwyl die skool voorheen geweldig daaronder gebuk gegaan het.
"As 'n mens die moeilike omstandighede in ag neem waar drank- en dwelmmisbruik 'n groot invloed is, glo ek dat die uitslae aan leerders bewys dat jou omstandighede nie jou uitkoms hoef te bepaal nie."
Petersen het in sy toespraak aan die matrikulante gesê, "My grootste geskenk is dat die matrieks van 2023 my kan huis toe stuur met 'n slaagsyfer van 90,8%.
"Ek is nederig dankbaar teenoor elke borg, kind, onderwyser en ouer wat ingekoop het." Hy het gesê elke persoon, van die skoonmaker tot die een wat die gras sny, speel 'n rol in die skool se sukses.
Kyk die video met Derick Petersen aan die woord.
Dit het baie na-ure lesse, ure se voorbereiding en opoffering gekos om hierdie uitslag te behaal.
Petersen het die matrikulante aangemoedig om hulle vlerke te sprei, nougeset hulle eie drome te volg en geleenthede te gaan soek en aan te gryp.
'n Oudleerder en eienaar van Coca-Cola se George-franchise, Elton Jacobs, is ook bedank vir die groot bydrae wat hy tot die skool lewer.
Jacobs het in sy spreekbeurt die matrikulante aangemoedig om hulle Godgegewe talente te gebruik en beklemtoon dat dissipline, 'n positiewe ingesteldheid en respek nodig is om waarlik suksesvol te wees.
FOTOGALERY: Parkdene Sekondêr trots op 90,8%-slaagsyfer
Parkdene Sekondêr se top-presteerders met die Kaylee-Ann Scheepers wat die eerste plek behaal het (vierde van links voor) en uittredende hoof, Derick Petersen. Foto's: Alida de Beer‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’