GEORGE NUUS - Inwoners van Maraiskamp het gistermiddag na hul huise gevlug toe skote die klap. Die skote was duidelik hoorbaar deur inwoners van Conville en Rosemoor.
Dit volg nadat lede van die publieke orde polisie (Pops) moes intree weens oproerigheid in die buurt. Die hoofpad is met klippe en brandende bande geblokkeer.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die oproerigheid plaasgevind kort na die inhegtenisname van die eienaar van ‘n perseel waar tik en Mandrax-tablette gekonfiskeer is.
Die Go- George-busdiens het hul diens in die area vir die middag gestaak.
“Beskikbare inligting dui daarop dat lede van die misdaadvoorkomingseenheid omstreeks 15:40 'n deursoeking en beslaglegging by Maraiskamp uitgevoer het,” het Spies gesê. “Die operasie het gelei tot die konfiskering van tik en Mandrax-tablette met die inhegtenisneming van die eienaar van die perseel. ’n Groep het later saamgedrom en die pad met brandende bande versper.”
Die polisie het in die gebied gebly om die situasie te monitor. ’n Saak van openbare geweld is geopen vir verdere polisieondersoek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'