Cornelius de Jager (45) is op aanklag van poging tot moord, vyf jaar gevangenisstraf opgelê wat in geheel opgeskort is vir vyf jaar. Hy is verder vir drie jaar onder huisarres geplaas met streng voorwaardes.
Hy moes teen 7 Desember ook R150 000 in aan sy eksvroyu, Rosemarie de Jager (45) oorbetaal.
Hy het 'n pleitooreenkoms met die staat gesluit en skuldig pleit op aanklagte van poging tot moord, roekeloos en nalatige bestuur asook die rig van 'n vuurwapen.
Cornelius het Rosemarie, wat kort voor die skietvoorval van Johannesburg na Mosselbaai verhuis het, tydens 'n rusie in die regter bobeen geskiet en daarna die vuurwapen onder sy ken gedruk en die sneller getrek.
Hy het ernstige beserings aan sy gesig en breinskade opgedoen, en ervaar probleme met sy sig.
Op die twee ander aanklagte, wat vir vonnisdoeleindes saamgevat is, is hy 'n boete van R4 000 opgelê.
Die aand voor die skietvoorval het Cornelius uit Johannesburg na George gereis. Hy en Rosemarie het die oggend van die voorval in George ontmoet het en op pad terug na Mosselbaai 'n hewige rusie gehad omdat sy hul verhouding nie nog 'n kans wou gee nie.
Die paartjie, wat in April 2015 geskei is, was vir byna 20 jaar getroud en het twee seuns.
Rosemarie woon deesdae oorsee.
Die saak het gedien voor streeklanddros P Govender en senior staatsaanklaer DM Redelinghuys het vir die staat verskyn. Mnr. J Botha het vir Cornelius de Jager verskyn.