GEORGE NUUS - Munisipale wetstoepassing-beamptes het Dinsdagoggend met die hulp van lede van die polisie se eenheid vir openbare orde (Pops) toegeslaan op onwettige kragaansluitings in die informele nedersetting Moeggeploeg, in Seaview, Pacaltsdorp.
Vele klagtes is ontvang oor inwoners van Moeggeploeg se onwettige aansluitings - meesal aan straatligte - wat die kragtoevoer na die res van die woonbuurt beïnvloed.
Die potensiële gevaar van hierdie dade het ook kommer veroorsaak. Die polisie het Dinsdag in 'n Nyala vir die operasie opgedaag.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, kapt. Malcolm Pojie, het die polisie slegs 'n beskermingsrol gespeel.
"Sowat 50 mense het oproerig geraak en is 'n munisipale voertuig met klippe bestook. Pops moes ingryp," het hy gesê. "Dit was egter nie nodig om operasioneel op te tree nie. Nadat met organiseerders gepraat is, het die groep vreedsaam uiteengegaan. Die munisipaliteit het ooreengekom om aandag te gee aan dienslewerings tekorte.
"Die situasie word gemonitor en geen sake is gerapporteer nie."
Kommentaar van George-munisipaliteit word afgewag.
Kragdrade is onder die plaveisel op die pad na wonings herlei.
Die polisie het met 'n Nyala by Moeggeploeg opgedaag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'