Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Werkers van George Switchboards het Dinsdag 3 April met 'n staking begin en op die sypaadjie voor hul werkplek in Hoopstraat betoog.
Volgens 'n organiseerder, Vernon Robertson, staak hulle tot vandag, Donderdag 5 April. Hulle is ontevrede oor hulle nie hul jaarlikse bonusse in 2017 ontvang het nie.
Verder het hulle 'n loonverhoging van 5,3% ontvang en nie 7% soos deur die Bedingingsraad vir die Metaal- en Ingenieursindustrie (MEIBC) vasgestel is nie.
"Ongeveer 40 werknemers is betrokke. Ons is oop vir onderhandeling, maar die werkgewer het nie enige aanduiding gegee dat hulle sal onderhandel nie."
Robertson het gesê dit is 'n onbetaalde, maar beskermde staking. Die stakende werkers bou industriële distribusieborde wat onder meer ook na Namibië versprei word, het hy gesê.
Die bestuur van die onderneming wou nie kommentaar lewer nie.
Dale Fish, 'n woordvoerder van die Unie vir Onafhanklike Kommersiële Gasvryheids- en Verwante Werkers (Ichawu), het gesê George Switchboards se bestuur het verlede jaar besluit om aan die bedingingsraad te onttrek.
"Daar is litigasie hangende in die hooggeregshof in dié verband. Die werkers het kwesbaar geword omdat hulle voordele en tariewe nie meer deur die bedingingsraad gereguleer word nie, terwyl die werkgewer steeds dieselfde aan sy kliënte kwoteer. Om die saak op te los, sal die werkgewer die verhogings en bonusse vir 2017 moet betaal en voldoen aan die voorwaardes van die bedingingsraad."
Kyk 'n video hieronder.
Lees 'n vorige artikel: Stakers ontevrede oor betaling
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'