GEORGE NUUS - Onkruid wat bo-oor 'n muur van 'n substasie koekeloer maak 'n inwoner van Heatherpark vies.
Die inwoner, wat graag anoniem wil bly, het glo al vele oproepe na George-munisipaliteit gemaak oor die onkruid op die hoek van Airway-rylaan en Ysterhoutstraat.
"Ek bel, maar niks gebeur nie. Die saad waai oor na my erf en dan moet ek sukkel met onkruid wat in my tuin opkom omdat die substasie nie onderhou word nie," het hy gesê. Athane Scholtz, mediaskakelbeampte van George-munisipaliteit, het egter gesê meer besonderhede is nodig om so 'n saak op te volg.
"Klaers moet asseblief sekermaak dat onderhoudskwessies by die regte departemente aangemeld word. Daar is nie rekord van hierdie klagte by die elektrisiteitsdepartement nie. Dit is egter nou op rekord en behoort vandag nog (21 Januarie) skoongemaak te word."
Sy het gesê alle kragstasies word oor die algemeen volgens 'n skedule gereeld skoongemaak. Die klaer van Heatherpark reken egter die feit dat die onkruid al so hoog gegroei het is 'n teken dat daar maande laas onderhoud gedoen is. "Dit is nie die publiek se plig om te sien dat onderhoud gedoen word nie. Waar is die persoon wat in beheer van die substasies is?" het hy gevra.
Onderhoudskwessies by kragstasies, substasies en ander elektriese infrastruktuur kan aangemeld word by 044 874 3917 of 044 803 9222 en behoort binne twee weke vanaf die aangemelde tyd aangespreek te word. Oorgroeide munisipale eiendom wat nie met elektriese infrastruktuur verband hou nie, kan by die departement gemeenskapsdienste aangemeld word by 044 802 2900.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'