GEORGE NUUS - Danksy twee hoogs gespesialiseerde mediese operasies wat onlangs in George uitgevoer is, sal 'n man wat 'n ernstige steekwond in sy nek opgedoen het, weer goed met sy hand kan optel en vashou.
Die operasies is onlangs deur dr. Pieter Jordaan, 'n ortopediese handchirurg van die Garden Route Hand Unit by die Mediclinic George uitgevoer en sover bekend is dit die eerste keer in die Suid-Kaap uitgevoer.
Soortgelyke operasies is al voorheen in groot stede soos Kaapstad, Durban, Johannesburg en Pretoria gedoen.
Die onlangse gebeure beteken dat pasiënte nie meer na die groot stede hoef te reis nie.
Die soort operasies staan bekend as nerve transfers en is nie baie algemeen in die land nie.
Jordaan het by navraag bevestig dat hy die operasies uitgevoer het. Volgens hom is dit regtig baie ongewoon en die betrokke pasiënt sal weer chirurgie in die toekoms benodig. Dit is 'n lang herstelproses en die pasiënt sal geduldig moet wees.
Hy het gesê om dit baie eenvoudig te verduidelik is nerve transfers wanneer gepoog word om senuwees wat beseer is, te herstel deur 'n senuweetakkie te verplant.
Dis hoogs gespesialiseerd en dit vereis fyn werk van 'n dokter. Dis ook baie tegnies en daar is hoë risiko's aan verbonde. Spesiaal aangepaste brille word onder meer gebruik en die finale senuwee hegting word met 'n chirurgiese mikroskoop gedoen.
Dr. Pieter Jordaan in die teater met die spesiale brille wat in operasies gebruik word. Dit staan ook bekend as Loupes.
Dit is 'n pluimpie vir George. Dit beteken mens kan meer gespesialiseerde prosedures hier doen en ook pasiënte help wat voorheen ver sou moes reis.
Jordaan het voorheen onder meer in die buiteland op die gebied studeer en ondervinding vir die uitvoer van sulke operasies gehad.
Hy het gesê die betrokke pasiënt se twee operasies het onderskeidelik sowat ses ure en twee en half ure geduur.
Dit was tegnies moeilik omdat mens die senuwees asook hulle onderlinge takke asook hulle interne struktuur moet dissekteer en dan die fyn takke moet heg. Dit moet gedoen word sonder dat mens onnodige skade aanrig en soveel as moontlike funksie probeer herstel.
As die pasiënt nie die operasies ondergaan het nie, sou hy nie regtig sy vingers kon buig of reguit maak nie. Hou ook in gedagte dat senuwees groei gewoonlik 1 mm per dag. Sou die senuwees van sy nek na sy hand natuurlik moes aangroei, sou dit sowat twee jaar geneem het.
Dr. Pieter Jordaan met die spesiale brille wat in die operasie gebruik is. Foto's: Eugene Gunning
Dit kon ook weer ander implikasies hê. Na omtrent 18 maande hou die senuwee aansluiting na die spiere op met werk en sal die spier nooit weer kan werk nie, selfs al het die senuwee herstel.
Die pasiënt sal waarskynlik funksioneel sy hand gebruik wat beteken dat hy goed sal kan optel en vashou.
Jordaan het onlangs met die pasiënt gepraat en hy herstel goed.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'