GEORGE NUUS - Lede van die gemeenskap het Vrydagaand, 7 Januarie, in groot getalle opgedaag in Oewerstraat, Denneoord waar 'n spesiale geleentheid vir Jana Human (7) gehou is.
Jana, 'n inwoner van die straat, is in September 2021 gediagnoseer met Akute Leukemia All Btipe en Oewerstraat se beroemde Kersliggies, is die afgelope feestyd aan haar opgedra.
As gevolg van Covid-19 was daar nie in 2020 liggies in die straat nie. Jana het verlede jaar behandeling in die Kaap ontvang en het eers kort voor Kersfees teruggekeer huistoe. Sy en haar ma, Petru, was sedert September in die Kaap.
'n Spesiale geleentheid wat Donderdagaand, 23 Desember, in Oewerstraat vir haar gehou sou word, moes om logistieke redes uitgestel word tot vroeg in Januarie.
Lisa Swanepoel, die eienaar van Coffee Bistro en organiseerder van die geleentheid, het Maandag gesê Jana was self Vrydagaand daar. "Sy kon die eerste warm sjokolade vanuit Coffee Bistro se mobiele tuk-tuk geniet.
"Die beroemde Oewerstraat het weereens geskitter en geskyn van liggies. Mense van oud en jonk kon te midde van kinderlaggies vir hul iets bestel om te drink as deel van die spesiale fondsinsameling vir Jana.
"Die atmosfeer en gesindheid van elkeen teenwoordig was iets besonders om te beleef. Briefies vir Jana is in 'n spesiale boks geplaas met donasies wat gebruik sal word vir wat sy nodig mag hê.
"Coffee Bistro en die Humans bedank ook die stadsraadslede, Donovan Gultig en Dirk Wessels vir die saamkuier en ondersteuning van hierdie spesiale geleentheid. Alles het glad verloop.
Jana saam met Lisa Swanepoel, die eienaar van Coffee Bistro en organiseerder van die geleentheid.
Sy is dankbaar vir elke persoon wat die fondsinsameling ondersteun het. "Ons bedank ook Howard en Caren Ogilvie van Oewerstraat 15 wat hul mooi versierde parkeerarea beskikbaar gestel het aan Coffee Bistro, asook voorsien het van elektrisiteit."
Sy sê dit is wonderlik om te sien hoe oop inwoners se harte is en die hoop uitgespreek dat 2022 vir Jana en vir elkeen 'n jaar van liefde en goeie gesondheid sal wees tot almal weer onder die sterrehemel bymekaar kom om dankie te sê.
Denise Human, Jana se ouma, het gesê hulle is baie dankbaar vir almal wat opgedaag het. "Ons is ook baie dankbaar vir die hulp en donasies."
Sy sê onder omstandighede gaan dit goed met Jana. "Sy is positief en baie gelukkig om by die huis te wees."
Jana moet in Februarie terugkeer Kaap toe vir behandeling en daar is nog 'n lang pad wat wag.
Jana Human Vrydagaand by twee lede van George-stadsraad, Donovan Gultig en Dirk Wessels.
'n Magiese atmosfeer het Vrydagaand in Oewerstraat geheers.
'n Magiese atmosfeer het Vrydagaand in Oewerstraat geheers.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'