GEORGE NUUS - Oewerstraat in Denneoord se beroemde Kersliggies word Saterdagaand, 2 Desember, aangeskakel en sal tot 31 Desember aanbly. Dit sal die volgende dag op 1 Januarie afgehaal word. Die liggies sal elke aand aanbly van 19:00 tot 22:00 sover beurtkrag dit moontlik maak.
Die liggies trek landwyd aandag en mense kom gewoonlik van heinde en ver om dit te besigtig.
Vanjaar sal sowat 35 van die huise weer met liggies versier wees.
Inwoners van die straat se liggiespan, Colett Rossouw, Carin Ogilvy en Denise Human het na 'n gesprek oor kanker besef hoeveel inwoners in Oewerstraat met kanker gediagnoseer is. Dit het die omvang van kanker tuis gebring. Daarom wil Oewerstraat vanjaar 'n verskil maak.
Human bygestaan deur Rossouw en Ogilvy het gesê daar is besluit om die jaar die liggies aan huidige kankervegters, die oorwinnaars en die wat hulle vlerke gekry het, op te dra.
"Die bome sal in verskillende kleure versier word om die verskillende kankers uit te beeld. Daar sal ook op die hekke van die inwoners in Oewerstraat, wat oorwinnaars is en die wat nog veg, plakkate wees as deel van die bewusmaking. Kanker ken geen grense nie en kan enige dag enige iemand, oud of jonk, ongeag van status of kleur tref.
"Kom ons vat hande as 'n gemeenskap hierdie feesgety," het Human gesê.
Mense wat na die liggies gaan kyk of bloot 'n bydrae wil maak word gevra om die volgende instansies te ondersteun: Choc (Childhood Cancer Foundation) en Kansa.
"Kom deel in die liggies, vreugde en liefde elke aand vanaf 2 Desember om 19:00 tot 22:00," het Human gesê.
Vir meer inligting kontak Denise Human by 071 191 4355.
Lees meer: Lights Festival at Pacs Amphitheatre
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’