GEORGE NUUS - Die jaarlikse geleentheid in Oewerstraat waar Kersfeesliggies en -versierings vreugde vir talle bring, het tydens die afgelope feesseisoen ook gehelp om die boodskap rondom die uitdagings van kanker oor te dra.
Inwoners van die bekende straat in Twee Rivieren is van voorneme om dit tydens die 2024/25 feesseisoen weer aan te bied en hoop dat meer mense in die groter Denneoord betrokke sal wees.
Die liggies trek gewoonlik landwyd aandag en mense kom van heinde en verre om dit te besigtig. In die afgelope feesseisoen was dit weer so.
Tydens die afgelope feesseisoen is die liggies aan huidige kankervegters, die oorwinnaars en die wat hulle vlerke gekry het, opgedra.
By elkeen van 10 huise in die straat is iemand wat een of ander verbintenis met kanker het of gehad het byvoorbeeld huidige kankervegters. By altesame 21 huise was Kersfeesliggies.
By van die huise is plakkate aangebring waarop inligting verskyn het soos byvoorbeeld die verskillende soorte kanker. Mense wat na die liggies gaan kyk het of bloot 'n bydrae wou maak, kon dit doen deur Choc (Childhood Cancer Foundation) en Kansa te ondersteun.
Inwoners in die straat het 'n liggiespan, Colett Rossouw, Carin Ogilvy en Denise Human gehad wat oorkoepelend na reëlings gekyk het.
Rossouw en Human het Vrydag, 5 Januarie in 'n gesprek terugskouend na die afgelope feesseisoen gekyk.
Volgens hulle was daar geen negatiewe insidente en alles het goed afgeloop. Hulle het benadruk dat dit nie gegaan het oor die hoeveelheid geld wat ingesamel is nie. Dit het gegaan oor die bewusmaking van kanker.
Mense besef nie altyd dat dit nie net by volwassenes voorkom nie maar ook by kinders. Dit plaas nie net druk op die kankerlyers nie, maar ook hul families.
Dit het voorts ook gegaan oor die samesyn tussen mense wat na die liggies gaan kyk het.
Hulle het ook verwys na die besonderse rol van Luhan Smit, 'n 11-jarige seun, wat 'n entjie daarvan in Ribbokstraat woon en ook liggies ingespan het om iets vir die gemeenskap te doen. Hy het Odin gehelp.
So 'n poging in Oewerstraat sou nie moontlik gewees het sonder die hulp en donasies van verskeie belanghebbendes en maatskappye. Hulle het hul dank teenoor almal uitgespreek.
Dit sluit in:
- Something Special in Yorkstraat;
- Halfway Toyota;
- Marilize Voigt;
- Cancercare, Choc en Kansa
- Wynand Barnard Solidworx and Construction;
- Danie Nel elektries en sy span;
- Blitsdruk;
- Wellingston Spar;
- Denneoord Kafee;
- Alister Macfarlane wat as vader Kersfees opgetree het;
- Jaco Human wat die Grinch was;
- Al die besoekers;
- Al die inwoners in die straat wat liggies opgesit het;
- Omliggende strate se inwoners wat ook liggies geplaas het;
- Heart Beat se ontbytprogram en
- Cancercare wat die Gemmerhuis koek geskenk het.
Van die Kersfees-versieringe in Oewerstraat wat ook gebruik is in die boodskap oor kanker.
Denise Human en Colett Rossouw, deel van Oewerstraat se liggiespan. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’