Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Sakeleiers het verlede Donderdagaand vir 'n rukkie vergeet van die uitdagings van die harde sakewêreld en in 'n gesellige luim verkeer. Sowat 100 verteenwoordigers van verskillende maatskappye en instansies het die laaste netwerk geleentheid van die George-sakekamer bygewoon wat by die Town Lodge Garden Route Mall, George gehou is.
Tydens die geleentheid het dr. Dennis Farrel, voorsitter van die George-sakekamer, 'n kort oorsig gegee van die jaar se aktiwiteite. Hy het onder meer verwys na ontmoetings met die Graaff-Reinetse-sakekamer en 'n Zambiese afvaardiging.
Tydens die ontmoeting met die Zambiese afvaardiging is moontlike sakegeleenthede in die Tuinroete bespreek.
Die George-sakekamer het ook onlangs insette gelewer tydens 'n anti-korrupsie geleentheid wat onder die vaandel van die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsels (GCIS) aangebied is.
Farrel het daarop gewys dat korrupsie nie net in die staatsdiens voorkom nie, maar ook in die privaat sektor.
Farrel het aan die George Herald gesê dit was 'n baie opwindende jaar. Op die makro-ekonomiese vlak is met sakeondernemings gepraat oor sake van belang in die land. Dit was soos byvoorbeeld grondhervorming.
Die onderskeie sakekamers in George soos van Thembalethu en Blanco het ook in 'n forum saam met die George-sakekamer vergader.
Aanwesiges tydens die George-sakekamer se laaste netwerk-geleentheid vir 2018. Foto: Eugene Gunning
Volgens Farrel groei die George-sakekamer. Gemiddeld sluit vyf nuwe lede elke maand aan.
Hy het gesê 'n baie opwindende 2019 wag. George is reeds 'n aangename plek om in te leef en daar gaan gekyk word hoe dit verder verbeter kan word.
Ekonomiese uitdagings sal ook aandag kry. Dit is baie belangrik dat bestaande sakeondernemings volhoubaar bly en groei.
Hy het moontlike beleggers genooi om na George te kom. Die George-sakekamer het goeie verhoudinge met die George-munisipaliteit. Aansporingsmaatreëls word vir voornemende beleggers deur die munisipaliteit aangebied.
Paul Hoffman wat as fasiliteerder vir die ontmoetings met die Zambiese afvaardiging opgetree het, het gesê die groep het Dinsdag in die Suid-Kaap aangekom. Dit was een van die uitvloeisels van die Garden Route-distriksmunisipaliteit se beleggingskonferensie wat vroeër vanjaar gehou is.
Die afvaardiging het Dinsdag na hul aankoms, Knysna besoek waar hulle met onder meer verteenwoordigers van die munisipaliteit, die toerismebedryf en die hout- en bosboubedryf gepraat het.
Kyk 'n video hieronder:
Woensdag het hulle George besoek. Tydens die besoek het hulle 'n werksessie bygewoon wat deur Rand Merchant Bank aangebied is. In- en uitvoere is onder meer bespreek.
Volgens Hoffman het hulle verskeie sterkpunte waaronder landbou, mynbou, toerisme en die hout en bosboubedryf.
Hy het die ontmoetings as positief beskryf. Daar is beslis genoeg raakpunte vir ekonomiese samewerking en opvolgbesoeke.
Van die mense wat die George-sakekamer geleentheid bygewoon het. Pedro Oliphant (links), dr. Dennis Farrel, Nomzamo Entile, Unam Gila en Michael Barkley. Foto: Eugene Gunning
The George Business Chamber held it's last Network evening last Thursday. Dr. Dennis Farrel, chairperson of the George Business Chamber used the oppertunity to look back at the past year. He also invited potenial investors to invest in George.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'