GEORGE NUUS - Petro Moolman (73) en haar man JJ Moolman (72) het ander planne vir 2021 gehad. Die egpaar was 48-jaar getroud toe Petro haar JJ in Januarie vanjaar aan Covid verloor het, minder as twee jaar nadat hulle van hul plaas in die Cradock-omgewing na George getrek het.
Na haar man se dood het hul dogters aangedring dat sy nader aan hulle bly en alles is gereël vir haar trek op 22 November na Vishoek. Dít het so amper nie gebeur nie.
Verlede Vrydag, 5 November, moes Petro binne sekondes 'n besluit maak: uitswaai of aanry. Sy was op pad om vir oulaas vir haar twee susters in Groot-Brakrivier te gaan kuier en was onderweg op die ou lughawepad (R102) vanaf George toe 'n voertuig knap by die lughawekruising vanaf haar linkerkant, vanuit die lughawe se rigting, na die hoofpad beweeg en vinnig versnel.
"Ek het aan weerskante gecheck en gesien daar is aan die lughawe en Blanco se kant 'n ry voertuie. Op die kruising het ek 'n beweging gesien wat aan die passasierskant van my Ford Ranger op my afpeil," het Petro gesê.
"As ek nie uitgeswaai het nie, het ek haar [die bestuurder van die ander voertuig, 'n Hyundai] verseker getref. Die lugsakke het ontplof en my soos 'n vuishou teen die bors getref. Ek is heen en weer in die bakkie geslinger, met my veiligheidsgordel aan. My remme het ingegee weens die botsing - ek het haar kar se voorkant getref - en ek moes uiteindelik met my handrem die bakkie tot stilstand bring."
Maar hulle leef. Beide bestuurders van die voertuie wat in die botsing betrokke was, is ongedeerd (lees George Herald se nuusflits op Facebook verlede week.) ER-24 was op die toneel, sowel as provinsiale verkeer.
"Die paramedici was ongelooflik. Die jong man wat my gehelp het, was so besorg," het Petro gesê. "Ek het baie pyn gehad en moes ongelukkig self die polisiestasie besoek. My bure het my soontoe geneem en daar moes ek in 'n lang ry wag om 'n verklaring vir versekeringsdoeleindes af te lê."
Die Hyundai wat in die ongeluk betrokke was by die lughawe-kruising. Foto: ER 24
Volgens Petro is sy ingelig dat daar nie genoeg polisievoertuie was om een na die toneel te stuur nie. 'n Navraag is aan die polisie gestuur en terugvoer word afgewag.
Intussen het die bestuurder van die Hyundai met Petro kontak gemaak. "Ons het 'n goeie gesprek gehad. Sy is 'n vreeslike nice vrou," het Petro gesê. "Sy het my werklik net nie raakgesien nie."
In 'n onderhoud met die ander bestuurder, wat graag anoniem wil bly, het sy verduidelik dat sy kort voor die ongeluk 'n trok aan die ander kant van die pad dopgehou het. "Ek het heen en weer gekyk, en toe ek sien die trok begin beweeg aan die oorkant, het ek ook. Daar is verseker 'n blindekol aan George se kant.
"Daar is plantegroei en die pad maak 'n draai," het sy gesê. "As 'n kar vinnig ry kan jy dit mis. Hulle moet dringend daaraan aandag gee. Dit was letterlik sekondes wat 'n verskil gemaak het dat ek nie onder 'n silwer laken lê nie. Dit was verseker nog nie my tyd nie. Ek het gister weer gery om myself te vergewis van wat gebeur het."
Sy het vertel dat sy met Petro kontak gemaak het, want sy wou hoor hoe dit met haar gaan: "Op die toneel het dinge so vinnig gebeur. Ek kon nie na haar gaan nie," het sy gesê.
Petro Moolman se Ford Ranger na die ongeluk verlede Vrydag.
Die kruising op die ou lughawepad was al menigmaal in die nuus. Oor die jare het die kruising baie lewens geëis. 'n Besoek van die voormalige Wes-Kaapse minister van vervoer, Bonginkosi Madikizela, het tot op hede nog nie vrugte afgewerp nie. Moontlike planne om 'n verkeersirkel aan te bring is vroeër geopper.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'