Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Ek het met crime in 1986 begin. Ek is nou 46 en het niks van niks nie, want my lewe het langs die tronk geloop.
Só sê Johannes Sodinga, ‘n man wat ‘n lewenslange vonnis vir verkragting en poging tot moord in George uitdien.
As deel van 'n reeks wat joernalis, Kristy Kolberg met seksoortreders doen, het die George Herald Sodinga by George Korrektiewe Dienste besoek en met hom gesels oor sy oortreding, sy vonnis en sy lewe daarna. Hy is reeds 19 in aanhouding en het nog ses jaar van sy lewenslange vonnis om uit te dien. Hy beweer egter dat hy onregverdig gevonnis is. "Ek het niemand verkrag nie," sê hy.
Die voorval
Hy erken wel dat hy in 1998 beplan het om sy slagoffer, wat van die skool af huis toe gestap het, in die bosse naby sy huis te verkrag, maar tydens die aanval het hy van plan verander. Volgens hom het hy uit vrees dat sy iemand sou vertel, besluit om haar te versmoor. "Haar oë was toe en sy het nie meer beweeg nie. Ek het haar daar gelos," sê hy.
Of sy voorgegee dat sy dood is, of werklik haar bewussyn verloor het weet niemand nie, maar sy was nie dood nie.
Sy het die voorval aangemeld en Sodinga is kort daarna in hegtenis geneem. Die saak is egter tydelik van die rol geskrap omdat daar nie genoeg bewyse was om hom in aanhouding te hou nie.
In 2000 is hy in hegtenis geneem en skuldig bevind op aanklag van huisbraak. Tydens sy aanhouding is hy in kennis gestel dat daar nuwe bewyse rakende die verkragtingsaak aan die lig gekom het. Volgens hom is hy daarna in die hooggeregshof op Mosselbaai tot 15 jaar gevonnis vir poging tot moord en 25 jaar vir verkragting. Die vonnisse word samelopend uitgedien.
Kyk 'n video hieronder.
Hoe beland jy hier
Hy reken 'n groot bydraende faktor wat tot 'n lewe van misdaad gelei het is die feit dat hy baie swaar en sonder 'n pa grootgeword het. Sy ouers het geskei en hy het by sy ma in 'n lokasie in Gauteng gaan bly. Hy was 14 toe hy die eerste keer met die gereg gebots het en vandaar het dit net afdraande gegaan.
"Ek het swaar grootgeraak, ek het nie kos gekry nie. Ek moes scarra. Ek moes Coke empties steel om geld te kry om kos te koop."
Kort voor lank is sy lewe deur dwelms en drank verswelg. "Jy sien suster, die crime is baie dangerous. Hier lê ons saam met mense wat doodmaak vir 'n selfoon. En dwelms is die oorsaak."
"Ek leer baie goed hier. Ek is dankbaar vir die Here dat ek in die tronk is. As ek nie hier binne was nie, was ek seker al dood. As ek uitkom wil ek met kinders gaan praat en vir hulle sê hulle moenie by dwelms, drank en misdaad betrokke raak nie.
Die gemeenskap is ook skuldig
Hy reken die gemeenskap is ook skuldig daaraan dat misdaad toeneem. "Hulle het die krag om misdaad te stop in die lokasies. Die mense wat dwelms verkoop bly in die lokasie en die mense weet wie hulle is. Dis die foreigners. Maar omdat hy agter in jou yard huur, beskerm jy hom teen die polisie, want jy benefit. Maar jy vergeet dat jou kinders ook daarin betrokke kan raak."
*Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig dié van die skrywer nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'