RUGBY NUUS - 8 Oktober 2022, die dag toe beide spanne koning gekraai het in hul onderskeie eindstryde op Outeniquapark. Blues is as die Presidentsliga-kampioene gekroon en Crusaders as die premierliga-kampioene.
Een ding was seker, Riversdal Blues het terugflitse gekry toe hulle die afgelope Saterdag Crusaders op Outeniquapark pak. Vir Crusaders was dit net nóg ‘n wedstryd, mens kon die gemaksone in die kamp van Crusaders van ‘n afstand aanskou.
Blues se losskakel, Ashwin Botha, het in die tweede minuut van die wedstryd met ‘n skitterende skepdoel geslaag. Crusaders moes weer afskop. Crusaders kon nie uit die groef kom nie en het weer ‘n drie afgestaan.
Hierna sien Blues ‘n realistiese kans om die onmoontlike te vermag. Hanteringsfoute en ongedwonge strafskoppe het Crusaders gekniehalter. Blues het telkemale geleenthede gekry om die puntestand te vergroot, maar anders as Botha se eerste skop kon hy nie weer die bal suksesvol deur die pale jaag nie (vier strafskoppe binne die eerste helfte).
Crusaders het net voor halftyd hul stemme dik gemaak. Hul ster regtervleuel, Clinton Wagman, het met ‘n goeie lopie agter die pale gaan kuier. Rustyd was die telling 8 - 5 in die guns van Blues.
Daardie drie het skade veroorsaak, want net daarna gaan kuier die linkervleuel, Ronaldo Fortuin, ook agter die wit kalk.
“Ons dra mekaar hier man, ons is ‘n klomp briljante spelers bymekaar. Kom ons raak rustig.” Dit was die pleidooi met halftyd vanaf die binnesenter van Blues, Jaco Arendse, wat geensins sy voet van die versneller af gehaal het nie.
Ongelukkig het die afrigtingkorps van Crusaders reeds daadwerklike planne beraam en dit effektief oor gedra na die spelers toe, Blues het nie ‘n kans gestaan nie.
Die tweede helfte kom met meer dringendheid. Blues het geen antwoorde gehad toe die span van Ricardo Beukes hul spelpatroon begin afdwing nie. Die wedstryd het na 80 minute op ‘n koue Outeniquapark, 38 - 8 in die guns van Crusaders geëindig.
SWD eersteliga
Vanwyksdorp se trots, Black Birds, het die sout diep in die wonde van Le Grand Roses United van Pacaltsdorp gevryf in Saterdag se stryd op Pacaltsdorp. Die Pacaltsdorpers het ‘n goeie opwaartse kurwe in vanjaar se SWD eersteliga B (Wes) getoon, maar ‘n buitengewone terugslag het hierdie klub die afgelope paar naweke getref, altesaam 16 sleutelspelers het onderskeidelik ernstige beserings opgedoen.
Saterdag is vier spelers van die veld af gedra met ernstige beserings wat feitlik hul rugbyseisoen tot ‘n einde laat kom het. Dit het ook Black Birds ‘n kans gegee om die wedstryd te beklink met 34 - 14.
Bitou gee tans die pas aan in hierdie liga met Black Birds wat knap op hul hakke is.
Die George-spanne beleef tans nie ‘n goeie seisoen nie en sal hoop om ‘n daadwerklike ommeswaai te maak met die verloop van die res van die kompetisie.
Carlton Coeries (buitesenter van Crusaders) en Ashwin Botha (losskakel van Blues) rank ook hoog in die lig met die hoop om balbesit te wen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’