Eerwaarde Lyndon du Plessis, die voorsitter van die predikanteforum in Pacaltsdorp sê dit gaan deel word van George se tradisie en sal uitgebrei word om mense van alle gemeenskappe in te sluit. "Burgemeester Bazil Petrus het sy steun aan die erfenisdagvieringe toegesê en in 2011 moet almal deel wees daarvan."
Die menseketting is die inisiatief van die Predikanteforum en poog om mense te verenig in die stryd teen verskeie euwels in die gemeenskap.
Du Plessis het in sy preek by die Pacaltsdorpstadion gesê armoede, misdaad, dwelmmiddels en geestelike verval moet onder die soeklig geplaas word. "Kindermolestering is ‘n euwel wat deel geword het van ons daaglikse bestaan. Gemeenskappe moet ophou om dit ‘n bestaansreg te gee.
"Mag ons ‘n trotse gemeenskap bou waar dit veilig is om te werk, te bly en te speel."
Skoolgroepe en verskillende organisasies het vanjaar deelgeneem, maar Du Plessis sê deur vroegtydig die ketting van hoop te bemark kan dit in 2011 dalk van die bopunt van Yorkstraat tot die onderste punt van Beachweg strek.
"Die feit dat die munisiapliteit inkoop in die gebaar is ‘n groot hulp. Vanjaar het sowat 2000 mense in die stadion gratis worsrolletjies en koeldrank van die munisiapliteit onvang. Dit is mos darem Nasionale Braaidag ook!"
Om betrokke te raak by die beplanning van die 2011-geleentheid, kontak eerwaarde Lyndon du Plessis by lyndon@telkomsa.co.za.
.jpg)
Talle mense vat hande in Missionstraat in Pacaltsdorp as deel van die Erfenisdagmenseketting.